"Hy het baie presente gekry en lekker partytjie gehou saam sy maatjies, ooms, tannies, ouma, oupas en almal wat so groot en kosbare deel van sy lewe uitmaak," het Marietjie Smit, ’n maatskaplike werker, wat die kleinding gered het en toe besluit het om hom aan te neem, gesê.

Niemand sou dink hierdie babaseuntjie se lewe sou só perfek wees as jy hoor sy biologiese ma, wat aan dwelms verslaaf is, wou hom aan ’n sangoma verkoop nie.

Marietjie het verlede jaar ‘n oproep van iemand gekry om te vra of sy nie ‘n hawelose swanger vrou kan gaan help nie.

Marietjie wil hê Riaan moet as ’n voorbeeld dien om te wys daar is hoop vir kinders wat slagoffers van mensehandel is. Foto: Verskaf

"Sy het langs ’n winkel op die sypaadjie gelê en vir my gesê sy weet nie eens of die kind nog lewe nie." Marietjie het haar hand op die ma se maag gesit en gevoel hoe die baba begin skop.

"Sien jy hoe baie gee God vir jou en jou kind om," het sy vir die ma gesê. “Ek het op daardie oomblik gevoel daar is ’n band tussen my en hom.”

Marietjie het ’n ambulans gebel en vir die vrou haar nommer gegee.

Die volgende dag het sekuriteit by ’n plaaslike treinstasie vir Marietjie gebel en gesê sy moet kom, iemand probeer haar "kind" verkoop.

Sy het haar dadelik daarheen gehaas.

“Toe ek hom daai dag vashou, was hy so weerloos en koud. Ek het net besluit ek gaan alles in my vermoë doen om hom te beskerm.”

Sy het net daar besluit om hom aan te neem. En as mens so kyk na die foto’s van sy eerste verjaardagpartytjie, is die kleinding dolgelukkig.

“Hy loop al van 9 maande af en is so groot seën vir ons,” vertel sy.

Foto: Verskaf

“Hy is so ’n pragtige kindjie en super intelligent!”

Marietjie sê sy wil hê Riaan moet as ’n voorbeeld dien om te wys daar is hoop vir kinders wat slagoffers van mensehandel is.

“Riaan is bewyse dat daar hoop is vir sulke kindertjies en vrouens wat in mensehandel beland. Daar is 'n veilige toekoms en heenkome as ons almal saamstaan om dit te beveg,” sê sy.

*Skuilnaam