Sy het besluit sy gaan nie huil oor die skade wat die vloed op Wolmaransstad aan hul besittings aangerig het nie, want dan hou sy dalk nie op nie.

So sê Anet Oosthuizen oor die skade wat aan hul huis aangerig is. Hulle is van die inwoners wat die meeste skade gely het.

“’n Dik laag modder het ná die vloed in ons huis oorgebly, maar vriende en familie kom help almal. Een vriendin gaan al my linne vir my skoonmaak,” het Anet Donderdagoggend gesê. Die modder is selfs deur haar kaste.

[post-slider]

Die gesin woon intussen by Anet se ma.

Anet en haar gesin het ’n klein kragopwekker sodat hulle hul huis met ’n hoëdrukspuit kan skoonspuit. Hul elektrisiteit is af nadat water oor hul muurproppe gespoel het.

“My matte is supervrot; ek gaan hulle nie eens probeer skoonmaak nie,” het Anet gesê. Haar meubels is ook beskadig.

“Opdrifsel en modder het van my meubels gevreet. My antieke meubels het baie skade,” sê sy. Hulle probeer dit met olie skoonmaak.

By die Wolmaransstad-ouetehuis is geen skade aangerig nie. “Ons het nie eens ’n kragonderbreking gehad nie,” het Brand Pretorius, bestuurder, gesê.

Die brug by die Makwassiespruit het weggespoel. Brand, wat 15 km buite Wolmaransstad woon, moes gister ’n ompad van 46 km ry om by die werk te kom. “Maar Sanral het die brug deur die nag herstel,” het hy gesê.

Die Engen-vulstasie op die dorp kan sedert Maandag nie sake doen nie. Bertina Pretorius, kantoorassistent, sê hulle het Maandag die elektrisiteit afgeskakel toe die water oor die petrolpompe begin spoel. Die vloed het vinnig momentum gekry.

[caption id="attachment_160613" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

“Die oggend het die water nog agter die spruit geloop. Dit was nog so mooi om na te kyk. Binne ure, teen tweeuur, toe is die water tot teenaan die plaveisel by die winkel.”

Bertina, wat al 25 jaar op hier woon, sê al het die dorp al vloede beleef, was dit nog nooit so erg soos nou nie. “Dit is skrikwekkend.”

Almal op die dorp praat met lof van Marietjie en Boontjies Jordaan wat oral help. Die egpaar het ’n sekerheidsmaatskappy op die dorp. Dit was ook die Jordaans wat gehelp het om ’n muur agter die vulstasie met ’n laaigraaf plat te stoot toe die water te veel agter die vulstasie opdam.

Lees ook: Huise op Wolmaransstad ontruim weens vloedwaters – kyk foto’s!

Marietjie sê hulle het Woensdag heeldag saam met Sanral gewerk terwyl die pad herstel is. “Eergister kon mense weens die water glad nie uit Wimpy kom nie. Ons het gaan help om hulle by die winkel uit te kry,” sê Marietjie.

’n Paar inwoners en verskeie ondernemings moes hul huis en perseel ontruim. Ten spyte van die skade is die inwoners dankbaar vir almal se bystand in dié krisistyd. “Die mense is wonderlik vir ons,” sê Anet.

  • Drie mense is in die omgewing van Rustenburg dood na oorstromings daar. Twee het in Phokeng verdrink nadat water hul motor meegesleur het en 'n laerskoolseun is dood toe ook hy deur vloedwater meegesleur is. Hy het probeer om 'n stroom oor te steek.