Die Hantam Een plek wat vandag behoorlik uit die nate moet bars van blydskap, is Calvinia in die Hantam. Luidens berigte het dié gebied die afgelope vier maande baie swaar onder waternood deurgeloop. Maar die afgelope naweek het die hemelsluise oopgetrek. Luidens berigte is 40 mm in die dorp en 18 mm teen die Hantamberg gemeet.

Dit het ongelukkig ook groot skade aan een van die plaaslike skole en omliggende paaie aangerig. Maar gemeet aan die groter prentjie van lafenis en verligting wat deur die reënbuie gebring is, glo ons die herstelwerk gaan met groot plesier geskied.
Dit is immers dieselfde streek waar talle vragmotors tot ’n week gelede van heinde en ver duisende liters water aangery het.

Die Karoo Meer as net die Klein Karoo Nasionale Kunstefees het die Karoo aan’t woel. Stewige neerslae het plek-plek laagwaterbrûe onder water gehad. Volgens die Oudtshoorn Courant het die laagwaterbrug by die Grobbelaarsrivier in ’n gevaarsone ontaard. Verskeie motors moes sedert Sondagaand uit die water gesleep word nadat motoriste nie op die oorstromings ag geslaan het nie. Daar is vandag nog dele waar die water te diep loop om veilig te wees. Op Oudtshoorn was dit vanoggend nog raadsaam om Rademeyer-, Albert-, Kerk- en Van der Rietstraat te vermy.

Die N12 tussen Oudtshoorn en Beaufort-Wes (Meiringspoort) is ook vandag nog weens oorstromings gesluit. Sondagnag het ’n passasiersbus in ’n penarie beland toe swaar reën dit in Meiringspoort tussen De Rust en Beaufort-Wes vaskeer. Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, het gesê daar is 13 brûe waar die pad oor die rivier strek. Die bus is tussen twee van die brûe vasgekeer, maar is intussen gevind. Wes-Kaap Saterdagaand het omliggende gebiede die weerligspel geniet terwyl Worcester die blymoedige ontvanger van ’n heerlike reënbui was.

Kaapstad is ook ’n bietjie afgestof danksy sagte, deurdringende reën wat Maandag nog geval het.
Noord-Kaap ’n Dorslesser vir Grootdrink naby Upington het Sondag sy opwagting gemaak. Erge wind het egter op Upington skade veroorsaak.
Onseepkans en sy mense smag egter nog na reën. Vrystaat Wat ’n mooi gesig is dit nie – daardie reënboog en die belofte wat dit inhou! Dit is beslis een van die beste redes om strooptyd ’n rukkie uit te stel.
Boonop lyk dit belowend met 60 persent kans op reën vir groot dele van die land.