Die 21-jarige Oscar von Memerty het nie ’n matriekafskeid gehad nie, maar hy het wel sy kleinsus, Kasvia, na haar skoolverlatersdans toe vergesel. 

Oscar en kleinsus, Kasvia. Foto's: Facebook

Sy pa, Ian, het Saterdag pragtige foto’s van boet en sus op sy amptelike Facebook-blad gedeel met die woorde: “Oscar het nooit ’n matriekafskeid gehad nie; toe vergesel hy Kas na die skoolverlatersdans toe (grad 11’s woon dit by haar skool by). HOE MOOI IS HULLE NIE?”

Oscar, die seun van twee legendes in die vermaakwêreld, Ian en Vivian von Memerty, moes reeds geweldige struikelblokke in sy kort lewe oorkom.

In Junie 1996 het Ian en Vivian die hartverskeurende bevestiging gekry dat MPS 6 (muco polysacharodisis 6), ook bekend as Marotewau Lamy-sindroom, gediagnoseer is by Oscar en sy ouer suster, Valeska. Beenmurgoorplantings is aanbeveel om die twee te help, maar dit sou ’n plaas se geld gekos het. Tog het Ian en Vivian in 1997 berge versit om R1,25 miljoen in te samel vir dié prosedures. 

Ná ses maande het Oscar sy oorplanting verwerp. Valeska se liggaam het hare aanvaar, maar sy is in Augustus 1998 oorlede nadat oorplantingskomplikasies ingetree het.

’n Vasbeslote Oscar het ook hierdie beproewing oorleef. En kyk net waar is hy vandag!