Vloedwater het die paartjie Saterdag oorval toe die Omarururivier met alle geweld afkom ná goeie reën in die gebied noordwes van die hoofstad, Windhoek. Hulle was op pad na die bekende Brandberg en ’n gids het hulle aangeraai om ’n alternatiewe roete te volg sou die Omaruru in vloed wees.

Met hul aankoms by die rivier Vrydag het hulle besef die watervlak is betreklik hoog. Hulle het besluit om liewer te wag dat die water daal voor hulle die rivier met hul toegeruste voertuig sou oorsteek.

Judith en Peter het op die oewer van die rivier oornag. Saterdagoggend het ’n Duitse paartjie by hulle aangesluit en ná ontbyt het hulle vier vaster grond gaan soek sodat hulle die rivier kon oorsteek.

Die Oostenrykse paar het die rivier in hul voertuig aangedurf en op ’n vlakker plek stilgehou voor hulle die laaste paar meter te voet afgelê het om te kyk hoe hulle die oorkantse oewer kon bereik.

Skielik het die Duitsers geskree die rivier kom af. Die watervlak het in ’n oogwink gestyg. Terwyl die Duitsers dit kon regkry om met hul voertuig na die oewer terug te keer, het Peter en Judith s’n vasgesit. In daardie stadium het die water reeds deurhoogte bereik.

Oomblikke later kon hulle nie die deure oopkry nie en moes hulle by die vensters aan die passasierskant uitklouter. Die watermassa het hulle blykbaar sowat 20 m ver meegesleur voor hulle vashouplek aan ’n doringboom kon kry.

Gelukkig kon hulle die boom uitklim waar hulle ure lank vasgekeer sou sit. Hulle kon sien hoe hulle voertuig ’n hele ent meegesleur word.

Die Duitse paartjie het hulp gaan soek op ’n nabygeleë plaas. Ná sowat twee uur het hulle saam met ’n boer teruggekeer. Peter het aangedui ’n helikopter sou nodig wees om hulle uit die boom te red.

So gesê, so gedaan. Intussen het omstanders probeer om hulle met ’n tou te bereik. Kort na drieuur Saterdagmiddag het komm. Flip Blaauw en sy spesiale reserwemagte per helikopter opgedaag.

Terwyl hy die naaldekoker enkele sentimeters bo die malende water laat hang het, het ao. Elvis Nzala vir Peter en Judith na binne gehelp.

Met behulp van sers. Nalimanguluke Namholo kon Peter tot bo-op hul voertuig laat sak word om van hul dokumente en bagasie te red.

Maar dit was nog lank nie die einde van die bekende Namibiese hulpvaardigheid en gasvryheid nie. Judith sê Flip het hulle na Windhoek gevlieg en help kontak maak met die Oostenrykse ambassade in Pretoria.

Hy het ook vir hulle verblyf gereël in die Arebbusch Lodge, waar die personeel so gaaf was om hul deurdrenkte klere vir hulle te was.

Judith en Peter is dankbaar vir al die hulp wat hulle gekry het en vol lof vir Flip se vliegvermoë en die verstommende ondersteuning wat hulle van die lede van die eenheid gekry het.

Bron: Informanté