Melissa Lee Matos, van Wes-Virginië in Amerika, het foto’s op Facebook gedeel van die vrou wat sy was in die dae toe sy aan heroïen verslaaf was. Sy is nou ’n jaar en vyf maande skoon.

“Ek het dit nog nooit voorheen gedeel nie. Ek is nie seker ek was ooit van plan om dit te doen nie,” skryf sy in ’n plasing waar sy haar hart uitstort.

“Dit is op vele maniere vir my uiters moeilik. Maar te veel mense gaan dood. Ek het vriende wat dit moet sien.”

Op een van die grafiese foto’s sit Melissa ineengesink teen ’n badkamermuur.

Sy dra ’n swart bandjietop en haar hare is merkbaar slordig.

Haar mond hang oop, maar haar oë is die skrikwekkendste van alles: Hulle is agteroor gerol en net die wit is sigbaar.

“Dit is hoe ek elke dag gelyk het. Jare lank. Dit is waarmee my man te doen gehad het. Dit is waarop my dogtertjies afgekom het.

“Dit is wat my familie en vriende gesien het – die min kere dat ek die huis verlaat het.

“Ek was siek. Ek was sterwend.”

Melissa erken sy was so verslaaf aan die dodelike dwelmmiddel dat sy nie gedink het sy sou ooit herstel nie.

“Ek was so verlore, ek kon my nie ’n lewe sonder dwelms voorstel nie. Ek het nie besef ek was skaars lewend nie.

“Kyk na die foto’s. Beelde van ’n dooie meisie. ’n Naaldslaaf met ’n gewoonte wat so kwaai is dat sy dae en nagte in ’n selfgeïnduseerde koma op haar badkamervloer deurgebring het."

"’n Meisie wat elke sent aan dwelms sou bestee en vergeet sy het kinders om te voed en versorg. ’n Meisie wat elke liewe ding verloor het wat sy ooit gehad het. ’n Meisie wat so siek was, sy het gedink sy sou nooit ’n uitweg vind nie – tot sy het.”

Die openhartige plasing deur die vrou en ma sluit ook ’n foto in van hoe sy vandag lyk – en die foto’s verskil soos dag en nag.

“As jy hierdie plasing lees en dieselfde pyn beleef as wat ek ervaar het, smeek ek jou om uit te reik. Ek het meer as een keer gesterf. Ek het nou nuwe lewe gevind."

“Ek belowe jou, daar is hoop. Daar is herstel. Daar is vryheid en kalmte en jy is dit werd.”

Bronne: metro.co.uk,news.com.au, facebook.com