Evelina Meyer (30) het vyf jaar met anoreksie geworstel weens angs ná haar ouers se bittere egskeiding en haar vrese oor wat ná haar skoolloopbaan met haar sou gebeur.

Foto: Magazine Features

“Anoreksie was van die begin af vir my ’n manier om van my lewe af weg te hardloop,” sê Evelina. “Ek wou nie my lewe leef nie en anoreksie was ’n soort eiehulpmiddel.”

Evelina, destyds 19 jaar oud, sou huiwerig ’n halwe appel per dag eet. Sy het haar steuring gebruik as ’n manier om ’n gevoel van beheer te behou.

Sy was ’n jaar lank in die hospitaal en elke keer wanneer sy meer geëet het as dit waaraan haar liggaam gewoond was, het sy hartversaking gekry.

Evelina Meyer (30) het vyf jaar met anoreksie geworstel. Foto: Magazine Features

Die dokters het haar ten einde laaste gesê hulle kon niks meer doen om haar brose liggaam te red nie.

“Die dokters het vir my gesê hulle kon my nie red nie en ek sou nog net drie dae lewe,” sê sy.

Maar skuif 11 jaar aan: Evelina, nou ’n ma van een, weeg ’n gesonde 70 kg, is gek oor lekkers en neem gereeld aan fiksheidskompetisies deel.

“Die dokters het my bowendien gesê ek het my liggaam so erg gestraf dat ek nie kinders sou kon hê nie, maar ek het vandag ’n gelukkige gesin,” vertel sy trots.

Sy erken dat haar selfbeeld nog af en toe laag is, maar sy gebruik haar Instagram-fiksheidsbladsy om ander eetsteuringlyers aan te moedig en te inspireer.

“My boodskap is dat jy nie alleen is nie, selfs al voel dit so,” sê Evelina. “Baie mense ly aan dieselfde steuring en jy moenie skaam wees daaroor nie. Jy kan vry en gesond wees.”