Sy het Woensdagmiddag ’n foto op Instagram gedeel waar ’n mens ’n kykie kry van hoe die voormalige Mej. Wêreld dit regkry om fiks te bly – selfs al word die lewe soms bedrywig.

“Wanneer tyd om saam met my kind deur te bring en oefening uitdagend word, hoekom nie alles gelyk doen nie,” het sy gevra by ’n foto waar sy met ’n dragordel – waarin haar baba sit – oefen.

Rolene het bygevoeg: “Hy het elke oomblik daarvan geniet!”

Sy het ’n week tevore ook ná ’n oefensessie ’n bemoedigende boodskap aan ander ma’s geskryf.

“Ons beste is al wat van ons verwag word. Deur te doen wat jy kan, wanneer jy kan, is al wat jy kan doen. Maak jou hare los en weet dat jy vandag goed vaar. Jy sal later die vrugte pluk van wat jy nou doen.”

Haar aanhangers kon nie uitgepraat raak oor hoe goed sy lyk en hoe hulle haar gebalanseerde leefstyl en deursettingsvermoë bewonder nie.

Rolene het onlangs aan Huisgenoot vertel sy vind nog elke dag haar voete as ma.

“Ek het al ’n ruk gelede besluit om te aanvaar die lewe het nie ’n handleiding nie. Daar is geen volmaakte resep wat jy kan volg om suksesvol en ’n goeie mamma, mediese student en vrou te wees nie. Ek probeer maar een dag op ’n slag vat, dankbaar wees en om net liefde te gee.”

Dankie, Rolene, dis wyse woorde.