’n Gewapende rooftog by ’n supermark in die Nyanga Junction-inkopiesentrum, Heideveld, naby Kaapstad het Maandagoggend in ’n gyselaarsdrama ontaard. Kort voor half-drie Maandagmiddag het die spesiale taakmag daarin geslaag om drie van die verdagte rowers uit die winkelsentrum te begelei. Die vierde verdagte rower is vroeër tydens ’n skietery tussen die polisie en die rowers gewond.

Vroeër vandag

Luidens berigte is vier rowers by die voorval betrokke. Die gebied is deur die polisie afgesper.

Volgens Netwerk24 is die supermark waarskynlik geteiken omdat dit ’n uitbetalingspunt vir maatskaplike toelaes is. Sekuriteitsbeamptes het glo die rooftog gefnuik.

Verdagtes het wild en wakker skote vanuit die winkel op polisie gevuur en twee mense, onder wie ’n sekuriteitsbeampte, is glo gewond. Die tweede gewonde persoon is vermoedelik een van die verdagtes.  

  ’n Gyselaarsonderhandelaar is kort voor 12:00 na die toneel ontbied.  

Die rowers is in besit van swaarkaliber-vuurwapens. Dit is onseker hoeveel mense in hierdie stadium as gyselaars aangehou word. Vier gyselaars is kort voor 13:30 Maandag bevry.  

Fikila Mbalula, minister van polisie, het gesê alle winkelsentrum-rooftogte word verdoem. “Kriminele moenie ons openbare areas kaap wat deur mense gebruik word nie,” het hy op Twitter gedeel.   Ook pendelaars word deur die voorval gekortwiek. Treindienste in die omgewing is ook voorlopig gestaak.  

Bronne: news24.com, netwerk24.com