Die drama het kort na eenuur Donderdagoggend tot ’n einde gekom toe die polisie twee minibus-taxi’s gereël het vir die 32 inwoners wat die burgemeester se kantoor beset het.

[video width="224" height="400" mp4="http://www.huisgenoot.com/wp-content/uploads/2017/05/WhatsApp-Video-2017-05-25-at-9.58.12-AM.mp4"][/video]

Hulle het daarop die kantoor verlaat en is ’n paar strate verder in hegtenis geneem. Hulle word aangekla van ontvoering, brandstigting en poging tot moord.

’n Groep ontevrede inwoners het Woensdag die munisipale kantore in Lichtenburg in die Noordwes bestorm. Hulle het ook ’n gedeelte van die kantoorgebou aan die brand gesteek.

Pius Batsile, die burgemeester se woordvoerder, het gesê die groep het ’n afspraak met die burgemeester gehad. Hy was laat vir die afspraak omdat hy na bewering nog by ’n vorige vergadering betrokke was. Die groep het daarop die kantoor binnegedring en geëis dat hy hul griewe moet aanhoor.

Die groep van sowat 35 mense het hul ontevredenheid oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) uitgespreek omdat hul afdeling (afdeling 3) nie daarby ingesluit was nie.

Batsile sê die plan is nog nie finaal nie en daar word steeds met verskeie gemeenskappe onderhandel.

Die Ditsobotla-munisipaliteit is saamgestel ná die samesmelting van Lichtenburg, Coligny en Biesiesvlei se tradisionele raad.

Bron: news24.com