Maar nie eens ’n milimeter van die hare wat Aliia Nasyrova vashou, is sinteties nie – alles is haar natuurlike hare. Aliia (27) het 20 jaar gelede opgehou om haar hare te knip en vandag spog sy met lang hare van meer as 2 meter (2,133 meter om presies te wees).
En asof dit nie genoeg is om jou groen van jaloesie te maak nie, sê die Instagram-ster boonop sy het nie ’n enkele gesplete haarpunt nie.

Hoe verseker dié Raponsie in die regte lewe haar hare bly in ’n goeie toestand?

Wel, behalwe dat sy foto’s van haar pragtige hare op Instagram deel, verklap die lieflike Letlander ongelukkig nie haar geheim nie.

Haar foto’s, wat spog met heelwat mense wat die like-knoppie kliek, laat aanhangers gedurig wonder wat haar geheim is, maar Aliia rep nie ’n woord nie. Sy het wel gesê haar lang haredos rus swaar op haar kop en skouers en weeg soveel soos die gesin se kat: 1,8 kg. Haar man het al geskerts haar hare is soos nog ’n lid van die familie oor die ruimte wat dit op hul bed in beslag neem.