Met ’n troudag wat al nader kom vir Rebeca Sinohara, het besef sy het geen vriendinne om in haar gevolg te wees nie. Sy besluit toe om die saak anders te benader.

Rebeca, wat van Brasilië is, het besluit om haar beste vriende te vra om op haar spesiale dag haar “strooimeisies” te wees – en toe loop dit perfek af!

“In my ingenieursklas was daar 56 ouens en net vier meisies, so daar was nie ’n oorvloed van keuses vir my nie,” het sy aan Buzzfeed vertel.

“Natuurlik het ek in my kinderdae en op hoërskool vriendinne gehad, maar ons was nie beste maats nie. Ek het ook op universiteit ’n huis gedeel met meisies, maar ek het ook nie beste vriendinne met hulle geword nie.”

Die rekenaaringenieur het bygevoeg sy het nog altyd geweet sy gaan nooit ’n groep vriendinne hê saam met wie sy voor die groot dag grimering aansit nie.

Daarom het sy besluit om haar ware beste vriende te vra – wat toevallig almal mans is.

Rebeca en haar strooijonkers het ’n skreeusnaakse fotosessie gehad wat veronderstel was om net vir die grap te wees. Maar toe Rebeca se grimeerkunstenaar begin foto’s neem, het die mans al gemakliker geraak voor die lens en begin sports maak.

Sy het hulle afgeneem in pienk kamerjasse terwyl hulle skeer, na Rebeca se trourok kyk en selfs haar aanstaande man, Renato, ’n soen op die wang gee.

“Die mans was baie tuis in hul pienk kamerjasse,” sê Rebeca. “Dit was skreeusnaaks.”

Op die troue het die “strooimeisies” darem elk in ’n formele pak voor langs die bruid gestaan.

“Die troue was fantasties,” sê Rebeca. “Ek en Renato is baie lief vir mekaar en mense sien dit wanneer hulle by ons is. Dit was ’n baie eenvoudige en intieme geleentheid. Alles was presies soos ons dit beplan het.”

Bronne: Facebook, Buzzfeed,