Jy sou dalk al opgelet het dat Alexa tydens die vliegramp-tonele ’n harnas om haar arm dra, maar dit is nie net omdat Alexa haar arm gebreek het nie; Carina het werklik op 4 Mei tydens die tweede dag van verfilming haar arm op die stel gebreek.

“Dit was die heel eerste toneel wat ons geskiet het nadat die vliegtuig geval het,” vertel Carina.

“Ek moes baie rondhardloop, want Alexa moes na die karakters omsien.” 

Toe Carina tussen takke deur moes hardloop het sy op ’n klip gegly, geval en haar arm gebreek.

Carina Nel het haar arm gebreek.

“Ek het dadelik geweet hy is gebreek. Ek kon hoor hoe die been kraak.”

Natuurlik het die vervaardigingspan nie onmiddellik besef wat gebeur het nie en nog ’n paar sekondes aanhou skiet. 

“Ek het ’n bloedstollende gil gegee. Die vervaardiger het natuurlik gedink dit is fantastiese toneelspel, maar Andre Lötter (Rickus) het eerste besef hier is iets fout.” 

Hulle het Carina per ambulans na die naaste hospitaal, die Mediclinic Brits, geneem. 

Carina is na die voorval in die hospitaal opgeneem.

“Hulle moes die bene terugdruk omdat die breuk veroorsaak het dat hulle bo-op mekaar gaan lê het.”

Sy is daarna geneem na die Life Wilgers-hospitaal, waar hulle op haar geopereer het. 

“Die Saterdag is ek ontslaan en die Dinsdag was ek weer op die stel om verder aan die episodes te skiet. 

“Die dokter het my vir ’n hele paar dae afgeboek, maar ek het net eenvoudig besluit ek moes verder aan die tonele skiet.”

Carina Nel op die 7de laan stel.

7de Laan-kykers was omtrent voor die kassie vasgenael toe die jong klomp van die Laan op ’n wegbreeknaweek per vliegtuig na ’n wildplaas sou gaan, maar dinge het ’n lelike nadraai gehad toe die vliegtuig iewers naby Nelspruit neerstort.

Die karakters moes onder uiterste omstandighede probeer oorleef en die karakter Petro (Carla van der Merwe) het dit helaas nie gemaak nie. 

Kyk gerus vanaand se episode wanneer die getraumatiseerde klomp hulself weer veilig in die Laan bevind