Desmond Wells kon daarin slaag om 10 kg se liggaamsgewig af te skud en het 16 cm om sy middel verloor. Foto: Verskaf

Die sanger Desmond Wells (42) kon nie glo dat ’n man wat in sy dae as polisieman fiksheidskompetisies gewen en medaljes by atletiekbyeenkomste verower het so kon lyk nie.

Net daar en dan het hy besluit om ’n verandering te maak. “Ek het toe net 41 jaar oud geword en was vasgevang in die mite dat mans bo 40 maar moet vrede maak met die feit dat jy nie meer soos ’n jong man gaan lyk nie.”

Dit was ’n jaar en vier maande gelede.

“Ek het net gedink tot siens daarmee, al beteken dit ek moet elke dag gaan gim. Ek wou nie deel wees van daardie vals mite nie.”

Die sanger, wat bekend is vir liedjies soos Desiré en Savannah’s Smile, sê hy het wel vinnig besef dat daar geen vinnige oplossing of dieetpil is nie.

Al wat werk, is om ’n gebalanseerde leefstyl te volg, gereeld te oefen en te eet volgens die gewig wat jy wil bereik.

Desmond kon daarin slaag om 10 kg se liggaamsgewig af te skud en het 16 cm om sy middel verloor. Hy het ook spiermassa bygekry en sy arms het van 33 cm tot 40 cm gegroei.

Hy is baie gedissiplineerd en probeer tussen ses en sewe dae per week in die gim uitkom. Hy was in Mei altesaam 25 dae daar. Hy oefen vyf dae per week met gewigte en twee dae van die week sal hy ’n klas in die gim bywoon wat kardiovaskulêre spiere oefen.

Desmond het deesdae nie net ’n nuwe lyf nie, maar ook ’n nuwe album, Staan vir Altyd by My. Hy sê dit was vir hom ’n aansporing terwyl hy aan die album gewerk het om goed te voel wanneer dit bekendgestel word.

“Dit is die beste keuse wat ek al in my lewe gemaak het en ek het regtig nog nooit so goed gevoel nie.”