Arat, wat in Babol, Iran, woon, het meer as 900 000 volgelinge op Instagram en meer as 650 000 op Facebook. 

Sy ouerhuis is sommer sy gimnasium en op sy sosialemediablaaie kan jy sien hoe hy hom op televisiestelle balanseer, teen mure opklim en van dinge soos deure en ander oppervlakke af bollemakiesie slaan.

Die veerkragtige seuntjie se fiksheidsregime sal die meeste gimlede in die skande steek en sy langtermyndoelwit is om eendag in die Olimpiese Spele mee te ding.

Die driejarige Arat Hosseini het meer as 1 miljoen bewonderaars op die sosiale media. Foto: Magazine Features

Benewens sy ongelooflike gimnastiekvaardighede vir sy ouderdom, stel Arat ook belang in swem, baan- en veldwedlope.

Arat was net vier maande oud toe sy pa, Mohammad, die eerste keer sy talent raaksien.  Die gesin het eers sy atletiese talente ernstiger begin opneem toe hy ongeveer ’n jaar oud was.

Mohammad het begin deur hom sowat 20 minute per dag af te rig.

Danksy die afrigting het hy ’n aantal ingewikkelde posisies bemeester en Mohammad het toesig gehou oor elke fase van sy seun se ontwikkeling. Soos klein Arat ouer geword het, het hy die afrigtingsessies verleng en dit is op die oomblik minder as ’n uur per dag.

Volgens Mohammad is daar ongelukkig in Iran geen gimnastiekkompetisies vir kinders in Arat se ouderdomsgroep nie. Maar weens sy roem op sosiale media is die gesin al na ’n paar internasionale televisieprogramme genooi.

"Omdat ons op ’n klein dorpie baie ver van die groot stede af woon, is ons geriewe eenvoudig en beperk."

"Hierdie soort tekortkominge veroorsaak dus dat ons ingewikkelde oefeninge doen. Dit beteken iets spesiaals, want hy doen dinge wat niemand anders kan doen nie. Almal bewonder Arat en dink hy kan homself aan die hele wêreld bekendstel en hom bewys,” het die trotse pa gesê.

Arat het, by monde van Mohammad, gesê: "Toe ek aan my eerste internasionale TV-program deelgeneem het, het my pa gehuil van blydskap. Dit was my beste dag. 

"Ek hou van vakansies, die skool en my familie  – dis dit."

"My droom is om ’n Olimpiese kampioen te word."