Die fotograaf is afgeneem waar hy met die reuse-reptiel aan ’n leiband in die branders rondplas en kinders aanmoedig om die reptiel te streel. 

Hy het daarmee oor die sand en tot in die branders gestap op die oorddorp Anapa in suidelike Rusland se Krasnodar Krai-streek.

Beeldmateriaal toon hoe kinders in swemklere die dier gretig vryf en streel. 

Op die ongelooflike videogreep lyk die dier kalm en toon geen duidelike teken van aggressie nie. 

Maar ’n meisietjie skrik vir die krokodil en hardloop beangs weg. 

Die man het met ’n reuse-reptiel aan ’n leiband in die branders rondgeplas Foto: Magazine Features

Die beeldmateriaal het onder die owerheid se aandag gekom nadat dit op die internet gelaai is. 

Hulle het ’n ondersoek begin en die eienaar van die krokodil as ’n plaaslike fotograaf uitgeken. 

Hy het die krokodil in ’n piepklein akwarium by sy huis aangehou en dit gebruik om geld te maak. 

Die krokodil-eienaar het sy ongewone troeteldier na die strand geneem en toeriste het dan betaal om saam met die dier afgeneem te word. 

Hy is in hegtenis geneem en die krokodil is geskenk aan ’n dieretuin in die stad Noworossijsk, ook in Krasnodar Krai.

Dit is onbekend of die fotograaf van ’n misdaad aangekla word, maar internetgebruikers was bly die krokodil het ’n nuwe huis gekry.

Iemand met die gebruikersnaam Nedopyatov het gesê: “Dit is wonderlik dat die reptiel by die wrede man afgevat is. Dit moet in behoorlike toestande aangehou word.”