Die driejarige Brayden Geis van Granbury, Texas, se ouers was paniekbevange toe hy skielik ophou asemhaal nadat hy ’n hoë koors ontwikkel en ’n toeval gekry het.

Braydon was by sy ma, Bethany Hoover, toe die voorval plaasvind. “Sy oë het ál verder in sy kop teruggerol; dis iets wat jy nooit met jou seun wil sien gebeur nie,” het sy pa, John Geis, gesê.

Hulle het dadelik die nooddiens ontbied. Terselfdertyd het Chase Miller, ’n plaaslike polisieman, die noodroep oor die polisieradio gehoor. Hy het besef hy is naby waar die krisis afspeel.

Behalwe vir John wat die situasie angstig oor die telefoon verduidelik, kan gehoor word hoe Bethany op die agtergrond huil en herhaaldelik Brayden se naam sê.

Chase het voet in die hoek gesit en was binne 60 sekondes op die toneel.

Hy het sowat twee minute lank mond-tot-mond-asemhaling op Brayden toegepas.

Brayden het begin asemhaal en gehuil. “Dit was onmiddellik ’n verligting,” het ’n oorstelpte Bethany gesê.

“Ek moes hom net weer help asemhaal,” het Chase gesê. “Op daardie punt maak niks anders rondom jou saak nie.”

Chase se flink, blitsvinnige reaksie het waarskynlik Brayden se lewe gered. Die burgemeester van Granburyn, Nin Hulett, het die polisie se lewensredder-eerbewys aan Chase toegeken.

Die dramatiese oomblikke is op die polisiemotor se kamera vasgevang.

Bronne: hcnews.com, nbcdfw.com