Verlede naweek was baie spesiaal vir die sangeres Elizma Theron en haar man, die verkoopsbestuurder en vlieënier Nico Grobbelaar.

Nie net het hulle Saterdag 25 Februarie hul kleingoed, Eli-zé en NJ, se verjaardae gevier nie, maar NJ is ook ’n dag later gedurende ’n spesiale seremonie in Pretoria gedoop.

Eli-zé het Maandag 20 Februarie drie jaar oud geword en NJ word Vrydag 3 Maart een. Dit maak dus sin om boetie en sussie se verjaardae sommer saam te vier.

’n Dag ná die viering is NJ tydens ’n seremonie by oupa Nico sr. en ouma Alta Grobbelaar se huis in Pretoria gedoop.

“Dit was so spesiaal en alles was pragtig,” het Elizma op Facebook geskryf. Sy het ook pragtige foto’s van die geleentheid in sosiale media gedeel.

Haar ouers, Elmarie en Jó, het die hele ent van Kuruman af gekom om deel te wees van die naweek se viering.

Hulle het ook NJ se blou-en-wit doopkoek van die Noord-Kaap af saamgebring.

Op die koek was blou voetjies, ’n kruis en skoentjies, asook ’n pragtige boodskap aan klein NJ:

“Mag die spore wat jy hier op aarde maak ’n storie vertel van ’n kind wat Jesus regtig ken . . .

’n kind wat deur sy voorbeeld siele vir Jesus wen.

"Mag jy deur die lewe se soet en suur altyd by Jesus se voete gaan sit, want sondig is jy gebore, maar vandag was Hy jou deur genade skarlaken (sic) wit.”

Nadat die boodskap aan hom gelees is, het hy alte lekker aan die koek weggelê.

’n Kapillêre hemangioom is verlede jaar kort ná NJ se geboorte aan die linkerkant van sy gesiggie gediagnoseer.

Deesdae is daar skaars ’n teken van die vlek sigbaar.

Elizma het verlede jaar in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel hoe dankbaar sy was toe die dokters bevestig het dat die vlek nie kwaadaardig is nie en mettertyd sal vervaag.

“Ek is op my knieë dankbaar dat hy ’n gesonde seun is wat lief is vir lag en soene,” het Elizma toe vertel.

Geluk met al die verjaardae en NJ se doop, Elizma en Nico!