Kwajongens kies gewoonlik eerder motors en bakkies, maar dié kalant het net een doel voor oë gehad: om daardie vragmotor te bestuur. Kort voor lank was die polisie op sy spoor, maar daar was geen keer aan die seun en die vragmotor wat hy “sonder toestemming geleen” het nie.

Twee polisiemotors het die onderspit gedelf teen die reuse-voertuig. Die minderjarige bestuurder het sonder huiwering bo-oor een van die motors gejaag. Met tye het die seun teen ’n spoed van tot 114 km/h op die snelweg en op die dorp voortgejaag. Een van die “stopstokke” wat deur die polisie in die pad gesit is, het ’n gat in die vragmotor se voorwiel gesteek, maar selfs dit het hom nie van stryk gebring nie.
Volgens die polisie het hy telkemale probeer om voertuie te tref. Nuuskierige inwoners het die hele petalje gadegeslaan. Troy Flatness het aan NBC gesê die seun “het geglimlag, getoet en geskree . . . hy het duidelik ’n goeie tyd gehad.” Elke keer as hy in die straat afgejaag het, het die omstanders gewaarsku: “Hy’s weer op pad!”
Eers 75 minute later, nadat ’n helikopter ook ingespan is, het die vragmotor in ’n doodloopstraat tot stilstand gekom. Die seun het te voet probeer vlug, maar dié keer het die lang arm van die gereg hom behoorlik beetgekry.

Sy jaery met ’n pap wiel het verskeie paaie beskadig, die nuwe vragmotor het aansienlike skade opgedoen en glasskerwe vertel van sy pad van verwoesting. Maar wonder bo wonder is niemand tydens die “pretrit” beseer nie.

Die seun is nou in ’n aanhoudingsentrum vir jeugdiges in Rochester.

Bronne: startribune.com, nbcnews.com, nydailynews.com

Ander stories op Huisgenoot.com

Twitter is 10 jaar oud! Kyk wat was dié SA bekendes se eerste twiets

Dié hawelose se liefdesverhaal sal jou weer in feëverhale laat glo

Chi Chi kan weer hardloop ná sy gemartel is ‘om haar vleis sag te maak’