Die tiener van Pretoria wat in ’n fratsongeluk verlede maand erge brandwonde opgedoen het, is uit die Milpark-hospitaal se waakeenheid geskuif.

“Ons het toestemming gekry om hom in ’n rolstoel na die kafeteria te stoot. Ons vat hom ook gereeld om te gaan loop,” sê Amoré Jooste, ’n familievriend.

sean 3

Sean het derdegraadse brandwonde opgedoen toe hy ’n vrou gehelp het wie se motor olie gelek het. Nadat hy ondersoek ingestel het, het hy sy hemp uitgetrek en petrol daarop gegooi om die olie van sy hande af te vee. Hy het die hemp toe weer aangetrek, maar dit het aan sy liggaam vlamgevat toe iemand naby hom ’n sigaret aansteek.

Sean het nie ’n mediese fonds nie en het dae gewag vir ’n bed in ’n staatshospitaal se brandsorgeenheid. Eindelik het barmhartige Samaritane hul hart oopgemaak vir hom en sy ma en meer as R800 000 vir hom ingesamel sodat hy na Milpark se brandsorgeenheid in Johannesburg oorgeplaas kon word.

Mé-Lissa, Sean se ma, het destyds aan Huisgenoot gesê dit voel vir haar soos ’n nagmerrie waaruit sy moet wakker word.

[caption id="attachment_145563" align="aligncenter" width="600"]Amoré Jooste, Sean en sy ma, Mé-Lissa. Foto verskaf. Amoré Jooste, Sean en sy ma, Mé-Lissa. Foto verskaf.[/caption]

“Hy is nou in ’n gewone saal en dit is wonderlik dat ons vir hom kan gaan kuier,” sê Amoré.

Mé-Lissa en Sean lag lekker saam.

[caption id="attachment_145568" align="aligncenter" width="600"]Sean en sy ma, Mé-Lissa. Sean en sy ma, Mé-Lissa.[/caption]

“Ons het hom nou ’n bietjie uitgevat om buite te gaan sit. Ons moet net seker maak hy bly in die skaduwee,” sê Amoré.

Volgens haar het die wonde in Sean se nek goed genees en hy sal nie in dié area ’n veloorplanting hoef te kry nie.

“Ons gaan nou lekker saam met hom eet en dan gaan ons weer ’n bietjie buite sit,” het Amoré gesê.