’n Familie-uitstappie na die Beijing Badaling-wildpark aan die voet van die Groot Muur het in ’n tragedie ontaard ná een van die groep uit hul motor geklim het twyl hulle binne die omheinde gebied gery het.

[caption id="attachment_132429" align="aligncenter" width="600"]Google.com Google.com[/caption]

Dit ten spyte daarvan dat besoekers aan die park verbied word om onder enige omstandighede hul voertuie te verlaat wanneer hulle in omheinde gebiede is.

Volgens berigte het daar vroeër ’n rusie in die motor ontstaan.

In ’n video van die daaropvolgende gebeure kan gesien word hoe die vrou uit die motor klim en vinnig na die bestuurderskant beweeg. Die bestuurder maak sy deur oop en dan verloop ’n paar sekondes waar sy nog buite die motor is.

Dit wil voorkom asof sy in gesprek met die bestuurder is. Of sy gewaarsku is deur een van die insittendes, is onseker. Sy kyk om. Maar dis helaas te laat.

Soos blits slaan die tier sy kloue in haar in en sleep haar met ’n paar kragtige hale die bosse in.

Die bestuurder spring uit die motor, huiwer ’n oomblik en begin agterna hardloop. Nog ’n vrou spring uit die motor en die twee storm saam die bosse in.

Die eerste slagoffer sterk in die hospitaal aan ná sy ernstige beserings opgedoen het. Die tweede vrou, wat haar wou help, is egter deur nog ’n tier aangeval. Sy het nie die aanval oorleef nie.

Die man en ’n kind wat saam met die groep in die motor was, het ongedeerd daarvan afgekom.

Waarskuwing: Beeldmateriaal mag sensitiewe kykers ontstel.

Bronne: itv.com, cbsnews.com, theguardian.com