Die ontploffing het Woensdag by die Minnehaha-akademie met 832 leerlinge in Minneapolis in die deelstaat Minnesota plaasgevind.

Luidens berigte het een persoon in die ontploffing gesterf maar dit is nog nie amptelik bevestig nie.


Daar word wel naarstigtelik gesoek na twee mense wat vermoedelik in die puin van die gebou vasgekeer is. Aanvanklik was daar gevrees dat drie vermis word, maar een van hulle is intussen ongedeerd gevind.

Bryan Tyner van die Minneapolis-brandweer het gesê snuffelhonde word nie in hierdie stadium ingespan om met die soektog te help nie. Hy het ook genoem dat drie mense van die skool se dak gered is.

Inwoners naby die skool het gesê hulle het die impak van die ontploffing gevoel. Van hulle sê self hul elektrisiteitstoevoer het na die ontploffing kortliks geflikker.

"Dit was net 'n klipharde 'boem', jy kon dit in jou borskas voel," het een van die inwoners gesê.

'n Deel van die privaatskool is feitlik gelyk met die grond gevee. Die middelste gedeelte van die skool het in 'n oogwink verdwyn.

Die ontploffing het naby, of moontlik binne, die skool se gimnasium plaasgevind. Van die skool se personeel was tydens die ontploffing in die gimnasium.

Minstens vyf mense het na bewering beserings as gevolg van die ontploffing opgedoen.

Die skool was besig met 'n somerskoolprogram, sportafrigting en verskeie ander aktiwiteite op die perseel toe die ontploffing plaasgevind het.

Dié foto is kort voor die ontploffing deur die skool gedeel.

Bronne: newschannel6now.com, independant.co.ukkhou.com