Dit lyk soos die nare nadraai van ’n hewige aardbewing, maar die gru-toneel in Yulin in die Shaanxi-provinsie van China waarin een persoon dood is, is eintlik deur ’n ontploffende toilet veroorsaak.

’n Gevaarlike hoeveelheid gas het glo opgebou in die afvoerstelsel, wat daartoe gelei het dat openbare toilette in dié stad met sy meer as 3 miljoen inwoners ontplof het, berig die South China Morning Post.

Buiten die een sterfte is sewe mense beseer. In die nadraai van die ontploffing, wat die hele toiletgebou uitmekaargeruk het, het menslike ontlasting op die omliggende strate, motors en geboue neergereën.

Beeldmateriaal wys die wydverspreide verwoesting wat deur die opbou van metaan, ammoniak en ander gasse veroorsaak is.

Baie openbare toilette in China maak nog gebruik van ’n putstelsel waarin die ontlasting blootgestel word aan lug wat tot ’n dodelike konkoksie in die afvoerstelsel lei.

Die sewe beseerdes is na omliggende hospitale gebring. Die owerheid ondersoek intussen die voorval.

Bronne: South China Morning Post; Metro; The Sun