Die BBC en SkyNews berig albei die voorval word nie as ’n daad van terrorisme gesien nie en is nou onder beheer. Die man het glo doelbewus met sy motor in ’n skare in die besige Bourke St Mall-area in Melbourne ingejaag kort voor 14:00 Vrydagmiddag en drie mense gedood en minstens twintig beseer. Dit sluit vier kinders in. Beeldmateriaal op Australiese televisie wys hoe die maroen motor skynbaar buite beheer in sirkels buite die Flinders-treinstasie in die stad ry. Dit het kort daarna in die skare ingeploeg.

Ooggetuies het aan die BBC vertel voetgangers het desperaat probeer om uit die motor se pad te kom. "Dit het ’n paar mense buite ’n kantoorblok en ’n winkel getref en hulle die lug in laat skiet," vertel die ooggetuie. "Die motor het net aanhou ry." "Mense het gegil en daar was baie harde geluide en stof -- ek het gedink ’n gebou stort in een."
Hoewel die voorval nie as ’n terrorisme-aanval hanteer word nie, word dit glo deur die polisie verbind met ’n voorval vroeër die dag waarin ’n man ’n ander man met ’n mes gesteek het. ’n Verdagte is reeds deur die polisie aangekeer nadat verskeie skote afgevuur is.

Bronne: BBC; SkyNews