Op 4 November 2016 is sy deur die polisie in Spartanburg gevind: vasgeketting “soos ’n hond” aan die binnekant van ’n vraghouer.

Sy het daarin geslaag om aandag te trek deur aan die binnekant van die houer te hamer terwyl polisie op die toneel was om ’n beweerde seksmisdaad te ondersoek.

In die ontstellende video van haar redding wat nou openbaar gemaak is, kan gehoor word hoe sy aan die polisie sê dat sy aan haar nek teen die muur vasgemaak is.

Charlie was egter reeds dood.

“Todd Kohlhepp het Charlie Carver drie keer in die bors geskiet, in ’n blou seil toegedraai, in die skopgraaf van ’n trekker gesit en my hier toegesluit. Ek het hom (Charlie) nooit weer gesien nie,” vertel sy aan haar redders.

Kyle het sporadies op Kohlhepp se eiendom vir hom gewerk. “Hy was gaaf, hoflik, net ’n doodgewone besigheidsman . . . geen waarskuwingsvlaggies nie,” het sy gesê.

In haar onderhoud met Dr. Phil het sy ook meer oor die grusame besonderhede vertel wat plaasgevind het nadat sy en Charlie na bewering op 31 Augustus na Kolhepp se eiendom gegaan het.

Kohlhepp het snoeiskêre en bottels water aan hulle gegee. Hulle sou help om bosse te snoei.

Hy het glo gesê hy moet iets in die huis gaan haal. Met sy terugkeer ’n paar minute later het hy vir Charlie geskiet.

Kohlhepp, ’n eiendomsagent, het intussen skuldig gepleit aan sewe moorde wat oor ’n tydperk van 13 jaar gepleeg is.

Hy is tot sewe keer lewenslange tronkstraf opgelê. Die vonnisse sal aaneenlopend uitgedien word.