Soveel veldtogte is reeds van stapel gestuur om bestuurders die onwysheid van teks en bestuur op dieselfde tyd te laat insien.

Selfs hoë boetes en die risiko dat die polisie beslag kan lê op jou onafskeidbare "geselsmaat", het blykbaar geen afskrikwaarde vir sommige motoriste nie.

Dis mos asof daardie selfoon in jou hand jou lewensaar is, jou allerbelangrikste asemteug waarsonder jy nie kan voortbestaan nie. So raak die fokus op die pad én die verkeer om jou van mindere belang. Jy móét eenvoudig in verbinding bly met wie ook al aan die ander kant van daardie klein toestel is . . .

En dan gebeur dit! Behalwe vir die verskonende wuif ná die botsing, kan ook duidelik gesien word hoe die bestuurder se kop ruk weens die impak. Was dit die oomblik werd?

Enigeen wat dit al gewaag het om 'n motoris met 'n selfoon in die hand te berispe, kan vertel van die vinnige reaksie, van: "Ek moes net gou 'n afspraak bevestig," en: "Ek was net 'n sekonde lank op die foon," tot: "Ek't verdwaal," of die aggressiewe: "Ag, man, ek kyk mos waar ek ry!"

Kyk: Watter impak kan dit op jou lewe hê as jy teks en bestuur?

Onthou, 'n volgende keer gaan dit dalk nie die sterk buffer van 'n motor wees wat jou tot stilstand gaan dwing nie.

Dit kan 'n weerlose mens of dier wees. Dit kan selfs iemand wees vir wie jy dalk meer omgee as vir daardie volgende oproep of boodskap.