Dan verander die geluide in die agtergrond. En skielik besef die brakkie dat daar nou moeilikheid op pad is. En teen ’n hoë spoed boonop. Volgende in beeld verskyn die grommende vierwielaangedrewe tydrenmotor met Fernando Zuasnabar van Urugay agter die stuur.

Jy wil al begin oë toeknyp want jy weet dit gaan in alle waarskynlikheid die laaste oomblikke vir die Boliviaanse brakkie wat ore platgetrek in die nek probeer weghardloop, op hierdie aarde wees. Daar is mos geen manier waarop hondekrag perdekrag ore sal aansit nie.

Toe gebeur dit. Fernando se motor tref ’n hobbel in die pad. Maar genadiglik sorg die kombinasie van hobbel asook die spoed van beide die vierpotige brak en vierwielaangedrewe wiele vir ’n wonderwerk.

Fernando se motor koop “lugtyd” en dit gaan met aansienlike grasie en spasie beskikbaar bo-oor wat vermoedelik teen hierdie tyd ’n baie benoude hond moet wees.

Fernando jaag voort, die brak verminder spoed na sy vorige windmakerdraffie en die omstanders kan hul oë nie glo nie.

Die voorval het Sondag tydens die tweede skof va die El Rally Codasur plaasgevind.

Bronne: foxsports.com, metro.co.uk