Wetenskaplikes voer egter nou aan jou hondemaat is dalk nie so mal daaroor nie. Inteendeel, hulle hou glo eintlik glad nie daarvan nie.

A photo posted by @katiegetslean on

Dr. Stanley Coren van die Universiteit van Brits-Columbië in Kanada is een van die wyse manne wat beweer honde kan ongemaklik en weerloos voel wanneer hulle gedruk word.

Hy en sy span het 250 lukrake foto’s van honde ontleed en tot die gevolgtrekking gekom honde steek hul ongemak en selfs irritasie op verskillende maniere weg. Die span het op sosiale media foto’s gekry. Stanley neem ook sy eie honde na die kampus as deel van ’n sogenaamde “Doggy De-Stress Day”. Die ondersoekers het bevind wanneer studente die honde streel en interaksie met hulle het, voel hulle minder gespanne. Moet dit egter nie waag om drukkies ook uit te deel nie. Volgens Stanley moet die hegte band tussen ma en kind, waar drukkies aan die orde van die dag is, nie verwar word met die band tussen jou en jou vierpotige vriend nie.

Honde se liggame is so ontwerp dat hulle vinnig kan reageer en hardloop, maar koesterende mense-arms laat voel hulle ingehok. Dit verhoog ook hul spanningsvlakke en kan selfs maak dat hulle na die mens hap of hom selfs byt.

Stanley is nie die enigste wetenskaplike wat drukkies vir honde afkeur nie.

Patricia McConnell, verbonde aan die Universiteit van Wisconsin-Madison, word as ’n kundige op die gebied van dieregedrag bestempel. In The Other End of the Leash: Why We Do What We Do around Dogs (2003) skryf sy reeds oor die duwweltjie van drukkies.

Haar punt word gestaaf deur waarnemings van foto’s op sosiale media en YouTube:

1. Klein hondjies sal hul oë terugrol in hul kaste.

2. Hul lyf verstyf.

3. Die liplekkery wat ’n mens op die foto’s sien, is gewis nie ’n glimlag nie.

Stanley identifiseer ook die volgende tekens van spanning of angs by honde:

1. Die hond draai sy kop weg van wat hom ook al pla.

2. Soms maak hy sy oë halfpad of heeltemal toe.

3. Wees ook bedag op halfmaan- of walvisoog, waar jy die wit gedeelte in die hoekie van sy oog of die rand van sy oog kan sien.

4. Hy laat sak sy ore.

5. ’n Hond kan sy lippe of jou gesig lek. Dit, asook gegaap en die lig van een poot, kan ook tekens van angstigheid wees.

6. In gevalle van erge spanning kan die hond sy tande ontbloot.

Ene Pamela, stigter van somethingwagging.com, het reeds op 25 April 2015 gesê die internet is tot oorlopens toe vol is van gelukkige mense wat ongelukkige honde druk. Stanley het dit beaam in sy blog-inskrywing op 13 April 2016. Lees ook: Ly jou hond dalk aan depressie? Pamela skryf egter nie die moontlikheid van geneentheid tussen mens en hond af nie. Sy het wel geleer om fyner te let op haar honde se gedrag sou sy hulle graag wou druk. Sy doen dit net wanneer sy weet haar hond voel veilig en ontspanne.

“Ek dink nie dis aaklig dat iemand wat hul honde ken en liefhet hulle so dan en wan ’n stewige drukkie gee nie. As ons hul behoefte om in stinkende goed rond te rol of rommel te eet in ag neem, kan hulle seker maar so af en toe ’n drukkie van ons af kry.”

Lees ook: Vind so uit of jou hond dalk aan spanning ly

Die hondeliefhebber beklemtoon sommige honde is baie onafhanklik – hulle sal toenadering net toelaat soos en wanneer dit hulle pas. Maar honde wat ’n sterk band met mense gevorm het, wys hul gevoel ook op hul eie manier. Pamela beskryf die volgende as hondedrukkies: 1. Die rus van ’n kennebak op jou lyf. 2. Leun teen jou. 3. Kruip in jou skoot. 4. Slaap langs jou.

Brian Hare, direkteur van Duke Canine Cognition Center in Durham, Noord-Carolina, het die volgende oor honde en drukkies te sê: “Wanneer jou honde na jou kyk, gee hulle jou drukkies met hul oë.”

Bronne: sciencealert.com, psychologytoday.com, wikipedia.org, somethingwagging.com, barkpost.com, evolutionaryanthropology.duke.edu

Ander stories op Huisgenoot.com:

Kyk net wat vang dié vrou met haar werkgewer se sap aan!

Groot omstredenheid heers oor Kate se asemrowende trourok jare ná sprokiestroue

Andriëtte in die wolke ná sege by Ghoemas – al loop sy dit byna mis

Pierre Greeff en Loki Rothman voer jou mee in roerende duet saam

Kyk hoe gelukkig is Dozi se eks deesdae!

Kurator van Huisgenoot-uitstalling met Kanna vereer in ons 100ste bestaansjaar

Kyk: Groot opwinding in dié geliefde Pasella-aanbieder se huishouding