’n Egpaar van Johannesburg het ternouernood aan die dood ontkom nadat ’n sleepwaentjie ewe skielik op hulle afgepeil het.

Mimi Coetser het Woensdag ’n video gedeel van waar sy en haar man iewers in die Karoo ry. Die kamera was op hul motor se voorruit gemonteer.

’n Minibus-taxi wat ’n waentjie gesleep het, kom dan van die teenoorgestelde rigting en op ’n manier het die waentjie losgekom en reguit op Mimi-hulle afgepeil en hulle motor van voor getref.

Op die video kan net gesien word hoe die voorruit kraak. “Vandag vir die eerste keer huil ek,” het sy op Facebook gesê.

“Ek is so kwaad. Ek is in die Flora-hospitaal opgeneem.

“Hulle doen toetse om te kyk na seer organe,” het sy geskryf.

Sy sê mense op die toneel was baie behulpsaam.

“Ek dink die passasiers het skuldig gevoel namens die drywer, want die sleepwa was nie behoorlik vasgemaak nie.”

Kyk die vreesaanjaende video hier: