Dié video, van die snit Gebruik My, is op 26 Mei verfilm toe dié groep hul jongste album bekendstel.

“Ons wou iets rêrig groots doen vir die nuwe album,” sê Pierre Greeff, hoofsanger van Die Heuwels Fantasies.

Sover die groep weet, is dit die heel eerste keer dat ’n musiekvideo in Suid-Afrika regstreeks in die virtuele werklikheid opgeneem word (oftewel as 'n 360°-video).

“Die idee is dat mense wat nie by die konsert was nie kan ervaar hoe dit was en ’n gevoel kan kry van hoe dit is om saam met ons op die verhoog te wees.”

LucanTV het die video in samewerking met Haddad Viljoen vervaardig.

Die eerste 360°-musiekvideo is waarskynlik in 2015 deur die groep Foals in samewerking met GoPro vervaardig. 

360°-video's word tegelyktertyd met ’n string kameras geskiet en dan in een video gekombineer sodat die kyker hom ten volle daarin kan inleef. Met gespesialiseerde virtuele-werklikheid-kopstukke soos Samsung Gear VR of Google Cardboard kan jy ’n selfs meer interaktiewe ervaring geniet.