Die haarsalon La Salvajeria in Spanje het ’n video op hul Facebookblad geplaas van ’n hawelose man se oormaaksessie ter viering van hul derde bestaansjaar. Die video is al miljoene kere in die sosiale media gekyk.

“Dit is ongelooflik, is dit rêrig ek?” vra Jose Antonio (55) in die video.

Die voormalige elektrisiën is al die afgelope 25 jaar op straat weens depressie, maar hy wil na dié transformasie weer werk soek.

[caption id="attachment_165066" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

“Ek lyk so anders, niemand gaan my herken tensy ek vir hulle sê wie ek is nie,” sê hy verder.

In ’n wit hemp, rooi broek en sonbril vaar hy die strate in om met sy nuwe voorkoms te spog.

In die video kan gesien word hoe Jose ’n bier bestel by ’n kroeg waarheen hy altyd gaan en skaterlag toe die kelner hom nie erken nie.

[caption id="attachment_165059" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Van die verbygangers lewer ook kommentaar terwyl hy in die straat stap.

Volgens die regisseur van die video, Santi Oliva, het die eienaar van La Salvajeria, Salva García, al lank vir Jose ’n oormaaksessie aangebied, maar hy het 18 maande gelede die eerste keer ingestem, berig BuzzFeed.

“Aan die begin was dit moeilik om hom te oortuig, maar hy het eindelik ingestem min wetend dat ons sy lewe gaan verander,” vertel Santi aan BuzzFeed.

Santi en sy span probeer al langer as ’n jaar om vir Jose hulp te kry en danksy ’n privaat maatskappy wat anoniem wil bly, het Jose nou ’n bed om in te slaap.

Die plaaslike raad het selfs besluit om al Jose se dokumente te hernu. Boonop het hy ook ’n oogoperasie gekry om sy sig te verbeter.

“Die volgende doel is om vir Jose werk te kry. Dit is hoekom ons die video op Facebook geplaas het,” vertel Santi verder.

Bronne: Metro.co.uk, Buzzfeed.com, Facebook, Twitter.