Die blinkgepoetse Oscar-toekenningsaand is ’n glorieryke geleentheid en oor die algemeen flatervry. Maar soms loop sake skeef en anders as in die geval van flieks, is daar nie ’n tweede kans om sake reg te stel nie.

Warren Beaty en Faye Dunaway het tydens 2017 se seremonie per ongeluk die verkeerde koevertjie oopgemaak toe hulle die Oscar vir die beste fliek moes aankondig.

Gelukkig was die ouditeure nie aan die slaap toe La La Land per ongeluk as wenner aangewys word nie.

 

Maar dis beslis nie die enigste flater wat al tydens dié glansryke aand gebeur het nie. Hier is ’n paar van daardie ander oomblikke wat heelparty sterre graag sou wou vergeet:

John Travolta se seepgladde danspassies is gedenkwaardig, maar sy tong het liederlik gestruikel toe hy in 2014 die bekroonde sangeres Idina Menzel bekendstel. Hy het haar Adel Dazeem genoem.

Idina het tydens daardie seremonie die bekende temalied vir die fliek Frozen, Let It Go, gesing.

Daar was meer as net ’n goue draadjie te bespeur toe Jennifer Lawrence in 2013 na die verhoog gestap het om haar Oscar vir beste aktrise in die fliek Silver Linings Playbook te ontvang.

Haar Dior-skepping, hoewel pragtig, het die ekstatiese aktrise behoorlik gepootjie toe sy die trappe bestyg het. ’n Galante Hugh Jackman het haar te hulp gesnel, maar die aktrise kon gelukkig self weer op die been kom.

Dis nie aldag dat ’n Oscar-wenner deur lede van die gehoor geboe word nie. Dié onbenydenswaardige eer het Michael Moore in 2012 te beurt geval toe hy gal gebraak het teenoor die destydse president George W. Bush.

Wat gebeur as ’n gegriefde dokumentêre regisseur haar sê wil sê – al is dit tydens die regstreekse uitsending van die Oscars in 2010?

Wel, dit staan bekend as Elinor Burkett se “Kanye West”-oomblik. Sy’t die mikrofoon oorgeneem en Roger Ross Williams, regisseur en filmvervaardiger van Music by Prudence (2010), opsy gestoot toe hy die Oscar wou ontvang vir ’n dokumentêr wat glo haar idee was.

Dié oomblik klink soos ’n fliek, oftewel ’n komedie, op sy eie: hofsake oor die fliek, partye wat nie by vergaderings ingsluit word nie, Roger wat glo blitsvinnig op die verhoog was om die Oscar te ontvang en sy ma wat na bewering Elinor met haar kierie probeer stop het om ook na die verhoog te gaan.

Markéta Irglová het wel in 2008 saam met Glen Hansard ’n Oscar gewen vir die beste oorspronklike lied Falling Slowly (Once). Terwyl Glen voldoende kans gehad het om sy toespraak te maak, is die arme Markéta deur musiek oordonder toe sy haar mond oopmaak om iets te sê. Sy is gelukkig weer na die verhoog teruggeroep om haar boodskap met die gehoor te kon deel.

Praat van meegevoer en passievol! Het Halle Berry geweet wat sou gebeur toe sy Adrian Brody se toekenning vir beste akteur (vir 2003 se oorlogprent The Pianist) uitgelees het? Dis onseker, maar hierdie was gewis ’n Hollywood-soen so reg uit die boeke.

Die oomblik was dalk net té groot vir Julia Roberts. Sy’t in 2001 almal bedank wat Erin Brockovich gemaak het… behalwe Erin Brockovich self, die inspirasie agter dié fliek.

Dit sou ook tydens die 2001-toekennings wees dat die sangeres Björk in ’n swaan-uitrusting geklee, letterlik ’n eiertjie te lê gehad het. Toeskouers het eers gedink dis haar handsak wat sy per ongeluk laat val het. Maar die “eier” was byna so groot soos ’n volstruiseier.

Phil Collins se hart moes in stukke gebreek het toe hy in 1985 hierdie weergawe van sy Oscar-wenner Against All Odds moes aanhoor. Hy was glo nie toegelaat om dit self te sing tydens die verrigtinge nie omdat hy nie ’n “fliek-mens” was nie.

Toe David Niven in 1974 vir Elizabeth Taylor na die verhoog geroep het om haar beeldjie in ontvangs te neem, het daar ’n onverwagse kinkel in die kabel opgeduik: ’n kaalnaeler!

Robert Opel, ’n fotograaf, was die man wat nie gedink het die vere maak die voël nie. David se kommentaar: “Fassinerend om te dink die enigste lag wat daardie man in sy lewe ooit sal ontlok, is deur sy klere uit te trek en sy tekortkomings bloot te stel.”

Hoe gemaak as jy skielik 20 minute agter die mikrofoon moet deurbring sonder enige draaiboek? Dit het met die arme Jerry Lewis in 1969 gebeur. Hy het die dirigent se posisie voor die orkes ingeneem terwyl hy die sterre aangemoedig het om te dans.

Tydens die 1933-toekennings is Frank Capra en Frank Lloyd al twee benoem vir die beste regisseur. Toe Frank geroep word om sy toekenning te kom haal, het die arme Frank Capra nie mooi geluister nie en gedink hy het gewen. Dit was egter Frank Lloyd wat gewen het.

Frank Capra het later sy blaps as die “langste, hartseerste en mees-verskeurende treë van my lewe” beskryf.

Bronne: businessinsider.com, telegraph.co.uk, latimes.com