Die foto van die voormalige Sweedse brandbestryder Lasse (Lars) Gustavson is deur sy vriend Bjorn Lindeblad gedeel ter viering van Lars se 60ste verjaardag. Lars se gesig is jare gelede erg geskend.

"Ek deel hierdie foto nou vir die derde keer in 36 uur,” lui die vertaling van Bjorn se plasing op Facebook. Sy inskrywing het sedertdien meer as 27 000 reaksies uitgelok en is meer as 31 000 keer gedeel.

"Facebook het nou al twee keer die foto verwyder, sonder enige verduideliking," skryf hy.

Om alles te kroon het Facebook Bjorn ook uit sy Facebook-rekening geskop.

"Ek was so verstom,” vertel Bjorn.

"Verskeie brandslagoffers het my daarna genader en aan my verduidelik dat foto’s van brandslagoffers dikwels in dieselfde kategorie as foto’s van seksisme en rassisme geplaas word op Facebook. O my genade. Kom ons wys vir Facebook hoe ons oor hierdie beleid voel deur hierdie foto na alle uithoeke van die wêreld te versprei."

Hy het ook die hartstogtelike byskrif gedeel wat hy op sy oorspronklike verjaardag-eerbetuiging aan sy vriend geskryf het.

"Sondagoggend vroeg toe ek hierdie foto vir die eerste keer op Facebook gedeel het, het ek hierdie woorde bygevoeg:

'Jy vier vandag jou 60ste verjaardag, my vriend. Geniet die tydjie in die Suide van Swede terdeë, terwyl ek hard werk hier aan die Weskus. Ek is heeltemal te vinde daarvoor.

'Dit is te danke aan mense soos jy dat ek nou my werk met vreugde kan doen. Jy het vir my lig gebring toe feitlik alles donker gevoel het in my binneste. Jy het deure oopgemaak wat ek gedink het vir ewig gesluit sou bly. Jy bel my dikwels, vreemd genoeg, presies wanneer ek jou stem moet hoor en jou wysheid nodig het.

'Jy terg die erns uit my uit wanneer nodig. Jy is die lewende bewys dat wysheid en spelerigheid hand aan hand loop. En jy herinner my telkens hoe fantasties ware manlikheid is.”

Bjorn het tydens ’n gesprek met die Telegraph gesê die sensuur van foto’s “kom gereeld voor wanneer brandslagoffers iets plaas waarop jy die brandmerke duidelik kan sien.”

Op sy beurt het Lars die volgende te sê gehad oor Facebook se kontroversiële beleid:

“Facebook volg ’n beledigende stelsel met hierdie soort van sensuur. Jy kan dit ’n soort rassisme noem," het hy aan die Sweedse koerant Aftonbladet gesê.

Die sosiale media-reus het intussen jammer gesê.

“’n Lid van ons span het per ongeluk iets verwyder wat jy op Facebook gedeel het. Dit was ’n fout en ons vra opreg om verskoning vir hierdie fout. Ons het die inhoud herstel en jy behoort dit nou te kan sien,” het hulle aan Bjorn geskryf.

Dit is ook nie die eerste keer dat Facebook oor die vingers getik is rakende sy skynbare neiging om mense se foto's te sensuur nie.

’n Foto van die plusgrootte-model Tessa Holliday in ’n bikini is ’n paar maande gelede deur Facebook verwyder omdat dit “’n liggaam of liggaamsdele op ’n ongewenste manier uitbeeld”.

Kort vantevore is ’n kragtige foto van ’n pa wat sy siek seuntjie in die stort vashou ook verwyder omdat dit na bewering sommige van die sosiale netwerk se streng reëls oor naaktheid oortree het.

Dink jy dit was verkeerd van Facebook om die foto’s van die brandslagoffer te sensor? Sê jou sê op ons Facebookblad.

Bronne: Facebook.com, telegraph.co.uk