Tydens ’n toetsrit met ’n Koenigsegg One:1 op die wêreldbekende Nürburgring-toetsbaan in Duitsland, het sake vir die bestuurder skeefgeloop. Sommer baie lelik skeepfgeloop en boonop nuwe betekenis aan die begrip “Blou Maandag” verleen.

Dit was glo nadat hy hierdie gulsige spoedvraat deur die berugte en veeleisende Fuchsröhre-gedeelte gestuur het, dat die Koenigsegg begin gly het voor dit teen die reling te lande gekom het.

Die kombinasie van impak en spoed was genoeg om die gesogte motor, wat van 0-400 km per uur in 20 sekondes kan versnel, skoon na die ander kant van die baan te laat skiet.

Die voor- en agterkant is verfrommel en daar is ook brandskade opgedoen.

Wat het Koeningsegg te sê oor hierdie duur blaps?

“Hierdie ongeluk is bevestiging van juis hoe moeilik dit is om op hierdie vlak op die wêreld se top-toetsgrond te bestuur.

“Natuurlik is ons geskok deur die voorval maar verlig dat ons veiligheidstelsels gewerk het soos dit ontwerp is om die bestuurder te beskerm.”

Dit klink na ’n kalm antwoord om die verlies van ’n motor, wat glo R37,7 miljoen werd is, mee af te skryf. Erger nog, Supervettura wat spesialiseer in die vervaardiging van die Koenigsegg One:1 bemark die voertuig vir naastenby R94,25 miljoen.

Terloops, na dié ongelukkige voorval is daar nou net ses van hierdie modelle, wat met ’n allemintige 5-liter enjin spog, oor in die wêreld.

Die identiteit van die ongelukkige bestuurder is nog nie bekend nie.

So lyk die Koenigsegg One:1 as dit in een stuk is. Pragtig, vaartbelyn, tegnologies gevorderd en met ’n enjin wat jou tone sal laat krul.

Bronne: dailymail.co.uk, uk.news.yahoo.co.uk, koenigsegg.com