Jy het dalk reeds einde verlede jaar die video gesien, maar dit is so dierbaar dat ons dit nog ’n keer met julle deel.

Dit is alles te danke aan Linda Culpepper (toe 3) wat haar pa op die oulikste manier moed inpraat terwyl hy haar hare probeer tem om poniesterte te maak.

Pa Derrick vertel in die beskrywing van die video dat sy familie hom inspireer om die beste pa te wees wat hy kan wees. Hy noem dat hy feitlik al sy hele lewe lank ’n barbier is, maar dat Linda se hare steeds ’n uitdaging is.

Terwyl Derrick haar vra wat hy moet doen, is sy onmiddellik gereed om hom die beste moontlike manier aan te moedig. Sy vertel hom dat hy meer smeermiddel nodig het om haar weerbarstige krulle onder beheer te probeer kry.

“Dan borsel jy dit en sit ’n rekkie daarom,” vertel die kleine juffie. En toe dit duidelik word dat haar hare nie so maklik is om te borsel nie, besluit sy Derrick moet gerusgestel word. “Jy doen goeie werk,” sê sy.

Hy bedank haar vir haar ondersteuning en vertel haar hoeveel hy vir haar omgee. Haar antwoord? “Enige tyd.”

Derrick sê hy skryf Linda se wonderlike gedrag daaraan toe dat sy mooi na haar ma, Lakisha, luister. En dan ’n stewige boodskap aan alle ouers: “Ouers, ons kinders luister . . . Ek het besluit om die video te deel omdat dit so baie aandag op my Facebook-blad geniet het. Hoop dit inspireer ander pa’s.”

Intussen is die video onlangs deur @becauseofthemwecan op die sosialemediaplatform Twitter gedeel waar daar reeds 92 000 keer interaksie met die plasing was en dit deur 60 000 Twitter-gebruikers gedeel is.

Wel, Derrick en Laksha, daardie klein mensie het gewis al hope ouers én kinders geïnspireer met haar mooi ingesteldheid.