Enigeen wat al in druk verkeer gery het en dan tot hul groot ontsteltenis moes sien verkeersligte werk boonop nie, gaan wens vir só ’n opkikkertjie!

Murray Kernick het onlangs dié vrolikheid afgeneem by die aansluiting van Cedar- by Witkoppenweg in Fourways, Johannesburg, en op Facebook gedeel.

Hoewel dit nie duidelik is na watter musiek die verkeersbeampte luister nie, is die volslae genot wat sy daaruit put, absoluut aansteeklik.

Heather Loggenberg het by die Facebook-inskrywing gesê dat sy absoluut gek is oor die verkeersbeampte se vermaaklike roetine, maar bygevoeg dat ’n mens “nooit, ek herhaal, nooit” aan haar verkeerde kant moet beland nie.

Heather sê sy het al menige keer gesien hoe sy voorbarige taxibestuurders baie dapper en so vinnig hul plek sit dat die oortreders se nek skoon uit lit uitruk.

Die video is sedertdien reeds sowat 250 000 gekyk en dit ontlok hope positiewe kommentaar, ook uit die buiteland.

Maar wag, laat ons weer dié aansteeklike danspassies beloer om enige sweempie van ’n blou Maandag sommer gou-gou te verdryf!