Selfs die hertog van Cambridge word elke dan en wan oor die vingers getik.

Gedurende koningin Elizabeth se 90ste verjaarsdagvieringe die afgelope naweek het haar kleinseun prins William dié redelik knorrige verjaardagmeisie verkeerd opgevryf.

Die koninklike familie, onder wie William, sy vrou, Catherine (die hertogin van Cambridge), en hul kinders, prins George en prinses Charlotte (wat haar balkondebuut gemaak het), het op Buckingham-paleis se balkon byeengekom om, soos die gebruik is, te wuif vir die bekoorde skare wat onder saamgedrom het.

Lees ook: Nuwe foto’s: Prinses Charlotte verower wuif-wuif harte net waar sy gaan

William het, soos die verspotte pa wat hy is, hurkend agter die balustrade verdwyn om om te sien na George, wat in Julie drie jaar oud word. Koningin Elizabeth, wat ’n neongroen uitrusting aangehad het, wou niks daarvan weet nie. Sy het William redelik geïrriteerd op die skouer getik en gewys hy moet regop staan. Die redelik bedeesde tweede troonopvolger het haar bevel onmiddellik gehoorsaam. Dié snaakse (hoewel alledaagse) familie-oomblik is op kamera vasgevang. En die beste deel? George bring sy palm na sy gesig, wat hom wanhopig en skaam laat lyk oor sy pa se situasie. Hy wou egter waarskynlik net sy oë beskerm terwyl hy na die Royal Air Force se verbygaande vliegtuie gekyk het. Hierdie koninklike jongeling kan tog nie so parmantig wees nie, of hoe?