Marzena Rogalska, ’n aanbieder by ’n Poolse televisiestasie, moes maar haar natuurlike instink vertrou het.

Een van die aanbieders van die oggendprogram Question for Breakfast was nie baie gretig toe ’n kulkunstenaar, wat as gas op dié regstreekse program verskyn het, haar gevra het om deel te neem aan een van sy goëltoertjies nie.

Volgens The Sun het die goëlaar, ’n semifinalis in Pole se talentkompetisie, Poland's Got Talent, drie papiersakke op die tafel neergesit. In een van hulle was daar ’n spyker wat besonder gevaarlik gelyk het.

In ’n videogreep van die toertjie kan jy sien hoe hy Marzena paai om haar hand op een van die sakke neer te klap. Sy lyk skrikkerig, selfs al het sy die toertjie reeds tydens ’n oefenrondte voor die vertoning geslaag.

Sy slaan haar hand – hard – op die middelste bruin sak neer. En toe gil sy. Die spyker het regdeur haar hand geskiet.

Sy steier agteruit en sak byna op die vloer neer van die pyn.

Die kulkunstenaar en Marzena se mede-aanbieder lyk albei totaal verskrik. Die arme vrou word eindelik weggeneem voor die kamera. Sy het ook nie weer vir die res van die uitsending verskyn nie.

Die nuusbron berig Marzena is ná die voorval hospitaal toe gehaas “waar die dokters bepaal het dit was slegs ’n oppervlakkige besering en hulle haar antibiotika en ’n tetanusinspuiting gegee het.”

Kyk hier na die voorval:

Bronne: The Sun, The Mirror, News.com.au, Metro.co.uk