Die De Zalze-bylmoorde word nie net in Suid-Afrika met groot belangstelling gevolg nie, maar ook vanuit Perth in Australië, volgens ’n buitelandse joernalis.

Dít, en die rede vir ’n nuwe uitstel in dié voortslepende moordsaak, is van die feite wat Maandag in Kaapstad aan die lig gekom het tydens die eerste dag van Henri van Breda se verhoor.

Henri staan tereg op die driedubbele moord van sy ma Teresa (55), pa Martin (54) en ouboet Rudi (22) na dié drie in die vroeë oggendure van 27 Januarie met ‘n byl in hul spoghuis in die gholflandgoed De Zalze buite Stellenbosch afgemaai is.

Lees ook: ‘Henri van Breda brand om sy kant van die saak te stel’

Die staat het beplan om vandag hul eerste getuie te roep en môre sou ‘n ondersoek ter plaatse by die moordhuis in Goskestraat in De Zalze plaasvind, maar regter Siraj Desai het die aansoek om uitstel toegestaan.

Die regter het wel gewaarsku dat dit die hof se plig is om die publiek se vertroue in die regstelsel te handhaaf en dat hy as regter als in sy vermoë sal doen om nie hul vertroue te skend nie.

Die regspanne moes hul onderneming gee dat verdere hindernisse nie die saak verder sou belemmer wanneer dit op 24 April hervat nie.