David Beckham het Instagram vandeesweek ingespan om te spog met sy “rowwe dag op kantoor” tydens die verfilming van Guy Ritchie se King Arthur: Legend of the Sword, waarin hy ’n kameerol vertolk.

Nadat hy beroepsokker in 2013 vaarwel toegeroep het, het David (41) ’n hele klompie goed beproef (parfuum, ’n klerereeks en hy het sy naam aan verskeie produkte verbind).

Nou ruim hy tyd in om ’n kameerol in King Arthuer: Legend of the Sword te vertolk.

Die gesig van David se karakter is op die foto erg vermink en dit lyk asof hy ’n steekwond het wat besig is om te genees. Sy tande is gevlek en lyk vrot en die sokkerster, wat eens die gesig van Armani was, lyk glad nie soos David nie.

Rough day at the office @kingarthurmovie @guyritchie

A post shared by David Beckham (@davidbeckham) on

Die hoofrolle in die prent, wat in Mei uitgereik word, word deur Charlie Hunnam en Jude Law vertolk. David speel ’n “onvergenoegde ridder”, berig ET Online.

David, wat oor die jare in talle advertensies te sien was en daaraan gedink het om toneel te speel, het in 2015 aan The Times gesê hy weet baie sportmanne en ander beroemdes het toneelspel beproef en daarin misluk.

“Ek weet dis ’n moeilike beroep waarin jy oor ’n yslike klomp vaardighede en dissipline moet beskik. Ek sal nie daarvan hou om my te vinnig vorentoe te stoot voor ek nie meer daaroor geleer het en meer oefening gekry het nie. Maar ek was gek oor wat ek tot dusver gedoen het. Ek kan die meeste dinge baasraak. Ek is ’n bekende mens, dus is ek gewoond aan kritiek,” was sy woorde.

Dit is nie die eerste keer dat David ’n kameerol in een van Guy se rolprente speel nie. Hy was ook in A Man from U.N.C.L.E.

"Wat ’n pragtige dag gaan dit nie vandag wees nie . . . Ek wens my vriend en sy pragtige bruid ’n fantastiese dag toe, waar vriende en familie bymekaarkom om dit wat hulle het en dit wat hulle oor die jare gaan skep, te vier.

Julle twee moet ’n wonderlike dag hê. O, en terloops, moenie A Man from U.N.C.L.E. misloop nie. Trots om ’n klein rolletjie te kon vertolk . . . @guyritchie," het hy geskryf.

Bronne: NME, Mirror, Daily Mail, The Times