Ons het geweet almal se gunsteling-waaghalse kon nie vir altyd gelukkig saamleef nie. En kyk ’n mens so na die eerste opwindende lokprent vir die agste Fast and Furious-prent, lyk dit of die laaste bietjie vriendskap tussen Dom (Vin Diesel) en die res daarmee heen is.

En dis alles skynbaar die doen en late van een persoon: ons eie Charlize Theron. Charlize skitter in die eerste lokprent as Cipher, ’n tegnologiese booswig wat daarop ingestel is om ’n skeuring in die groep te veroorsaak.

En sy slaag heelhartig daarin.

In Fast and Furious 8, oftewel The Fate of the Furious soos dit in Amerika genoem word, beland Luke Hobbs (Dwayne Johnson), die voormalige sekuriteitsagent, en Deckard Shaw (Jason Statham) ook saam in die tronk. Net om te besef hulle sal moet kragte saamsnoer om ’n bose Dom te oorwin.

En dan is daar natuurlik jaagtogte in pragtige motors op eksotiese plekke reg oor die wêreld.

Hierdie is die eerste Fast-prent sonder Paul Walker. Die akteur is in November 2013 oorlede tydens die verfilming van die sewende aflewering. Daai fliek is eers meer as ’n jaar na sy dood uitgereik in April 2015.

Fast and Furious 8 begin April 2017 draai. Ons kan nie wag nie!

Kyk hier na die opwindende lokprent vir die nuwe fliek: