Sy het dit vir Monster gedoen en nou lyk dit asof Charlize Theron dit weer gedoen het – en dit alles in die naam van haar werk!

Die goue meisie van Benoni het minstens 15 kg swaarder as haar rietskraal self gelyk toe sy in Vancouver, Kanada, gekiek word op die stel van haar nuwe rolprent, Tully.

Van die snaarstywe maagspiere, lenige bene en hoekige ken is daar geen teken nie. In die plek daarvan is ’n molliger vrou in jeans en ’n blokkieshemp.

[caption id="attachment_138712" align="alignnone" width="480"]Foto: AAI Fotostock SA Foto: AAI Fotostock SA[/caption]

Charlize speel ’n uitgeputte ma van drie wie se broer vir haar ’n nagoppasser geskenk gee. Sy is eers huiwerig om die luukse te aanvaar, maar vorm gou ’n band met die jong meisie, Tully (gespeel deur Mackenzie Davis).

Lees ook: Charlize Theron maak haar stem dik oor gelyke betaling in die bedryf

Daar word bespiegel dat Charlize se voller figuur danksy ’n vetpak is, maar as haar verlede ’n aanduiding is, is dit waarskynlik aan haarself te danke. Sy is bekend vir haar metodiese toneelspel en het 15 kg aangesit vir haar Oscar-bekroonde rol as die gewese prostituut en reeksmoordenaar Aileen Wuornos in Monster van 2003.

[caption id="attachment_138713" align="alignnone" width="480"]Foto: AAI Fotostock SA Foto: AAI Fotostock SA[/caption]

“Dit was nie oor vet word nie,” het sy destyds gesê. “Dit was oor ’n plek bereik waar ek nader gevoel het aan hoe Aileen geleef het.”

Verlede jaar het die 41-jarige haar kop kaal geskeer vir haar rol as ’n aksieheldin met een arm in die wetenskapfiksietreffer Mad Max: Fury Road.

Daar is duidelik geen keer aan onse Charlize nie!

- Nici de Wet