Scotland Yard het tydens ’n amptelike mediasessie aangedui dat daar verskeie beseerdes is, waaronder polisiebeamptes. Hulle wou egter nie verder uitwei oor hoeveel mense inderdaad tydens die voorval beseer is nie. Intussen word die voorval steeds as ’n terreurvaanval beskou.

Luidens berigte het minstens een vrou gesterf en ’n polisieman is deur die vermeende aanvaller gesteek. Die Britse eerste minister, Theresa May, was glo kwalik 12 meter vanwaar die beweerde aanval geloods is. Talle berigte verwys na “katastrofiese beserings” wat deur van die slagoffers opgedoen is.
Verskeie noodoproepe wat tydens die voorval gemaak is, het melding gemaak van die motor wat met voetgangers gebots het, ’n gewapende man en selfs van ’n vrou wat in die rivier geval het. Die Londense ambulansdiens het na bewering tien mense behandel vir beserings en nabygeleë hospitale is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas.
In die chaos wat deur die voorval veroorsaak is, is talle mense in die bekende toeriste-aantreklikheid, die Londen Eye, vasgekeer.

Vroeër vandag

Harde geluide, soortgelyk aan dié van geweervuur, het Woensdagmiddag naby die Britse parlement in Londen weerklink. Terselfdertyd is minstens vyf mense na bewering deur ’n motor op die Westminster-brug getref.
Volgens ooggetuies is twee mense binne die parlementshekke deur mediese personeel behandel. Gerugte doen die ronde dat minstens een persoon tydens die voorval raakgeskiet is.
  Daar word ook beweer dat ’n fotograaf in diens van die nuusagentskap Reuters nog verskeie gewondes op Westminster-brug naby die parlement gesien het.
Die parlement se deure is gesluit en lede sal binnegehou word totdat die toneel amptelik veilig verklaar word. Alle roetes na die parlement in sentraal-Londen is ook nou gesluit.
Ben Howlatt, LP vir Bath, het bevestig dat daar skote gevuur is. Hy het wel aangedui dat hy veilig is.
David Lidington het bevestig dat ’n polisieman tydens die voorval binne die parlement gesteek is en dat sy vermeende aanvaller deur die polisie geskiet is. Hy het aangedui dat hy oor beperkte inligting beskik maar dat sover sy kennis strek, ’n ernstige voorval op die perseel plaasgevind het. ’n Lugambulans is op die toneel om met beseerdes behulpsaam te wees.
“Verslae dui op verdere gewelddadige voorvalle in die omgewing van die Wesminster-paleis,” het hy gesê.
Dit wil voorkom asof ’n motor minstens vyf mense op die Westminster-brug getref het.
Dit is onseker of dit die slagoffer of vermeende aanvaller is.
Londense polisie het aangedui dat die voorval as 'n terreuraanval hanteer gaan word tot nuwe inligting bekom word.