Kyk: Emirates-passasiersvliegtuig slaan aan brand op Doebai-lughawe

Chaos en paniek het geheers toe passasiers die vliegtuig begin ontruim. Dié video, wat op WhatsApp geneem is, kan sensitiewe kykers ontstel. Daar kan gehoor word hoe die passasiers beveel word om hul tasse te los en by die noodglybaan af te spring.

"Los alles, los alles!"
Al die passasiers en bemanning, met uitsondering van ’n paar mense wat behandel is nadat hulle rook ingeasem het, het ongedeerd daarvan afgekom. ’n Brandweerman wat gehelp het om die brand te blus, het egter gesterf. Huldeblyke stroom in vir Jasim Issa Mohammed Hassan, die brandweerman wat omgekom het.

Sharon Maryam Sharji het die voorval as absoluut skrikwekkend bestempel. “Tydens landing het rook uit die kajuit geborrel. Mense het gegil en ons het ’n harde landing gehad,” het sy aan Reuters vertel.

Kyk: Massiewe brand verswelg een van die hoogste geboue in Doebai

Die voorval word nog ondersoek. Foutiewe landingstoerusting was dalk die oorsaak dat die vliegtuig ’n maaglanding moes uitoefen.

Die Boeing 777 word as een van die veiligste vliegtuie bestempel.

Meer oor die Boeing 777

? Meer as 1 000 is reeds vervaardig.

? Die 777 is die eerste kommersiële vliegtuig wat in sy geheel deur ’n rekenaar ontwerp is.

? United Airlines het die eerste Boeing 777 op 7 Junie 1995 kommersieel ingespan.

? Op 29 Julie 2001 het ’n elektriese brand aan boord van ’n 777 uitgebreek kort voor die vliegtuig van Kaïro sou opstyg. Ten spyte van kwaai brandskade, het al die passasiers en bemanning ongedeerd daarvan afgekom.

? Die eerste noodlottige ongeluk met een van dié vliegtuie was op 6 Julie 2013 in San Francisco. Die vlieënier het te kort voor die aanloopbaan probeer land. Drie van die 307 mense wat aan boord was, het gesterf. Een van die drie het die ongeluk oorleef, maar is deur ’n reddingsvoertuig getref.

? ’n Soortgelyke kort landing het op 17 Januarie 2008 by Londen se bekende Heathrow-lughawe gebeur. Dit was te wyte aan ys wat die brandstofstelsel blokkeer het.

? Sowel Malaysian Airlines-vlugte MH370 (wat verdwyn het) as MH17 (wat bo die Oekraïne neergeskiet is) was ook Boeing 777’s.

Bronne: theguardian.com, reuters.com, boeing.com, boldmethod.com, airsave.com