Die 48-jarige ster het die video oor haar man se lewe en sukses op haar Facebookblad gedeel. René, wat vir 21 jaar die My Heart Will Go On-sangeres se bestuurder was, is op 73 aan keelkanker oorlede.

“’n Jaar is verby sedert René ons gegroet het,” het sy by die video geskryf. “Hy sal altyd in ons harte wees.”

Die video, met emosionele musiek wat in die agtergrond speel, bevat familiefoto’s van René se grootworddae in Montreal, Kanada en begin met ’n oulike foto van hom as baba en eindig met ’n soen van Céline.

Daar is ook beeldmateriaal wat nog nooit vantevore gesien is nie van René se tyd as deel van die kortstondige Kanadese poprockgroep The Baronets in die 1960’s. Nadat die groep uitmekaar is, het hy ’n musiekbestuurder geword en in 1980 die 12-jarige Céline ontdek.

Die video bevat beeldmateriaal van daardie vroeë dae toe René die jong Frans-Kanadese ster ’n platekontrak laat teken en ’n lening teen sy huisverband uitgeneem het om vir haar debuutalbum, La Voix Du Bon Dieu, te betaal.

Céline het later ’n tweede video op Facebook gedeel ter ere van haar wyle man en die pa van haar drie kinders, Rene-Charles (15) en die sesjarige tweeling Nelson en Eddy.

In die hartroerende tuisvideo raak Céline aan foto’s van René en haar familie terwyl sy ’n hartvormige kussing teen haar bors vashou op haar bed met trane in haar oë. “My geheue is lief vir jou, dit vra gedurig na jou. Veral vandag . . . een jaar later. Ek wens RIP het beteken Return if Possible. Vir altyd joune, Céline xx” het sy daarby geskryf.

’n A cappella-weergawe van ’n nuwe liedjie van die sangeres is saam met die video uitgereik waarin sy sing: “My love, you have found peace.”

Céline moes slegs twee dae ná haar man se dood die verlies van haar broer ook vewerk. Daniel Dion is op 59 jaar op 16 Januarie oorlede ná ’n stryd teen keel-, brein- en tongkanker.

Cover Media