Praat van ’n spul padbuffels wat jou daagliks op ons land se paaie teister... Maar anders as daardie ouens agter die stuur, is dit in hierdie geval egter ’n regte egte buffel.

Aanvanklik lyk dit na ’n luilomerige dag vir twee leeumannetjies in die Kruger Nasionale Park met die wind wat liggies deur hul maanhare waai.

Maar kort voor lank verander die rustige prentjie in ’n nagmerrie toe ’n trop buffels ongeërg besluit om na die leeumannetjies se kant koers te kies.

Enkele meters van waar die twee mannetjies hulle bevind, besef die buffels alles is nie pluis nie. Snuiwend in die lug kom hulle tot stilstand. Dis net daar waar die tweemanskap besluit dis tyd vir aksie.

Die buffels draai kort op hul hakke om en begin hardloop dat die stof so staan terwyl die mannetjies hul spoedkrane oopdraai.

Maar dis toe dat sake vir die buffels skeefloop. ’n Motor wat langs die pad afgetrek staan, in alle waarskynlikheid om die spektakel dop te hou, is ongelukkig reg in die pad van die voortvlugtende buffels.

Vir die angsbevange buffels was daar nie ’n kans om twee keer te dink nie – dit was óf die motor tref óf op die leeus se spyskaart beland.

Die motor was die maklikste teiken. Gelukkig het die insittendes nie seergekry nie.

Kyk na die dramatiese jagtog hier (Waarskuwing: kru taal kan gehoor word.):

Lees ook op Huisgenoot.com:

Tweede verdagte in Winnie Rust-moordsaak vasgetrek

Voormalige Mej. SA oorleef gru-ongeluk

Heftige Inge Lotz-debat ontketen sleutelvraag: Het haar eertydse kêrel haar vermoor?

En daar ontaard Riaan Cruywagen in ’n kranige worsrolbakker!

Dié spiertier spog hy gebruik al steroïede van hy 18 was