Elize Aucamp, wat in Vanderbijlpark woon, het twee video's op die Facebookgroep Reënval in SA gedeel van wat gewoonlik "'n spruitjie is van sowat 60 cm", waarin die water nou sterk vloei. Dié water loop tot in die Vaalrivier.

Vrystaat Landbou het reënfoto's wat naby Wesselsbron deur Jakkals le Roux geneem is, op hul Facebookblad gedeel. Tot verlede week is 52mm-reën naby Wesselbron gemeet.  

Die blad het ook 'n video gedeel waar water oor Koos van Niekerk van Gottenburg se plaas buite Heilbron stroom. Daar het 236 mm se reën binne 24 uur geval.

Dié foto, wat naby Parys in die Vrystaat geneem is, is laat Maandagmmiddag op Facebook gedeel.

Maar elders het soveel reën en hael geval dat grootskaalse skade aangerig is. Lewens is reeds sedert verlede week se verwoestende storms in Gauteng geëis en derduisende rande se skade is aan huise, voertuie en geboue aangerig.

In die afgelope week was voertuie op verskeie plekke op paaie vasgekeer na hewige storms. In een voorval was sowat 80 voertuie een aand op ’n snelweg aan die Oos-Rand vasgekeer na storms Johannesburg en Ekurhuleni getref het. Verskeie motoriste het hul motors agtergelaat.

Kobus Botha, ’n weerkenner, sê Pretoria het reeds minstens 60 mm reën ontvang en by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg is 100 mm gemeet.  Tonie Rossouw, senior weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, sê die afgelope week het hael in onder meer Sasolburg, Parys, Viljoenskroon en Welkom geval. “Al die donderstorms die afgelope tyd het hael bygehad. Dit is eintlik verbasend hoe min haelskade aangerig is as jy kyk na die hoeveelheid storms wat voorgekom het.” Tonie sê die afgelope tyd se hoë temperature en die eerste voorkoms van vogtige, tropiese lug wat suidwaarts beweeg van Botswana na Noordwes, is wat die ongure weer veroorsaak. Só vorm dreigende wolke ’n pragtige prentjie Saterdag naby die suide van Johannesburg:

Die bekende Afrikaanse sanger Adam Tas het ook sy onverbloemde vreugde oor die welkome reën op Twitter gedeel.
Die westelike dele van Nooordwes is nog droog, veral vanaf Mafikeng weswaarts. In Bloemfontein in ’n suidwaartse rigting kom hoë temperature daagliks voor en bly die gras droog. “Dit lyk asof die westlike gedeeltes vanaf die 16de sal begin reën kry en die volgende sarsie sal vanaf 20 November val.” Vrystaat Landbou het by ’n foto van ’n gewas wat onlangs sy groen kop bo die grond uitgesteek het na die reën in die Oos-Vrystaat, gesê sommige landbouers kon begin plant na die eerste reën in Oktober en November. In KwaZulu-Natal was daar ook welkome verligting.
LH Claassen het getwiet watse wonderlike reën op die LHCGROEP-plase geval het. Die groep is deur Louis Hendrik Claassen begin en is deesdae ’n groot, suksesvolle landbou- en veemaatskappy. “Loof Jesus Christus se naam,” het hy getwiet.
Vreugde het ook hoogty gevier in Ventersburg. Dave Henderson het by ’n foto van reënbui wat uitsak op landerye waarop ’n planter voortstu, gedeel. “So vinnige 15mm terwyl ons plant 75km suidwes van Bloemfontein. Dankie Heer.”
Intussen waarsku die weerkantoor teen nog donderstorms en reën later die week.