Die golden retriever Smiley weet beter as enigiemand anders wat die gesegde “liefde is blind” beteken. Die 13-jarige hond is met ’n toestand gebore wat met dwergisme verband hou en daartoe lei dat hy fisieke afwykings het. Boonop is hy sonder oë gebore.

Met sy oorgroot tande en oogholtes wat nou toegewerk is om infeksies te verhoed, lyk hy kompleet asof hy glimlag – vandaar sy naam. Smiley se eienaar, Joanne George, het hom in 2004 saam met tien ander hondjies gered wat later aangeneem is.

Ná sowat ses maande het Smiley steeds nie ’n huis gekry nie en Joanne het besluit hy sal by haar moet bly. Dit het hom nie lank geneem om sy naam gestand te doen nie. Hy het van die eerste oomblik dat hy in die George-huishouding gekom het, vreugde in ander se lewe gebring. Lees ook: Chi Chi kan weer hardloop ná sy gemartel is ‘om haar vleis sag te maak’ Omdat hy nie kan sien nie, skat hy dit wat om hom is en leer hy mense ken op die gevoel wat hy van hulle kry.

Joanne het besef Smiley is so inspirerend; hy behoort ’n terapiehond te wees. “Mense vind aanklank by hom en word deur hom geïnspireer,” het sy aan CBS News gesê. “Ek besef toe hierdie hond moet ’n terapiehond wees – ek moet hom met ander deel.”

Kort daarna het Joanne, ’n hondegedragsafrigter, Smiley as ’n aanpassings- en veelsydige terapiehond opgelei wat hoofsaaklik met kinders werk.

Joanne het ’n profiel vir haar hond op die sosiale netwerk Instagram begin en hy het reeds meer as 80 000 aanhangers.

Volgens die Instagram-profiel is Smiley ’n terapiehond by die noodhulpopleidingsorganisasie St. John Ambulance. Lees ook: Fotograaf praat oor die oomblik toe leeus sy GoPro-kamera steel en selfies begin neem! Nou besoek Smiley ook pasiënte in aftreeoorde en is hy betrokke by outistiese kinders wat leessessies in biblioteke in Kanada bywoon.

Joanne neem hom na begrafnisse en hy speel met kinders wat iemand aan die dood afgestaan het. Die teenwoordigheid van ’n hond help om die hartseer te verlig, verduidelik sy. “Kinders wat met gestremdhede gebore is, kan nou sien honde kan ook met dieselfde gestremdhede gebore word,” het sy aan The Huffington Post verduidelik.

“Dis belangrik vir hulle om te sien Smiley het sy hindernisse oorkom en is gelukkig.”

Joanne hoop Smiley se storie sal meer mense aanmoedig om diere aan te neem. Sy meen hy is die volmaakte voorbeeld van hoe ’n aanneemhond van ’n traumatiese ervaring kan herstel.

– Saamgestel deur Saskia Hill

Bronne: huffingtonpost.com, independent.co.uk, cbsnews.com, instagram.com

Ander stories op Huisgenoot.com:

Michael Jackson se ‘finansiële roekeloosheid’ kom sy kinders duur te staan

Eers Boston, toe Parys, nou Brussel: Man oorleef glo al drie aanvalle

Diana se dood 20 jaar gelede met nuwe gedenktuin gevier

Hou Potch dalk wel ’n kunstefees in Oktober?

Eksklusief: Angelique Gerber vertel hoe sy vriendinne gevra het om haar bruidsmeisies te wees