In 2006 het Jeni Stepien se pa, Michael, van die werk af huis toe gestap toe ’n tiener hom tydens ’n mislukte rooftog in Swissvale buite Pittsburgh in Amerika skiet.

Terwyl haar pa, wat ’n sjef was, op sy sterfbed gelê het, moes sy gesin “die onvermydelike aanvaar”, het Jeni (33) aan The New York Times gesê. Die gesin het besluit om Michael se organe te skenk.

Hul besluit het ene Arthur Thomas se lewe gered.

“Ek was op die rand van die dood toe hy vermoor is en het ’n nuwe hart nodig gehad, anders sou ek binne die volgende paar dae sterf,” het die pa van vier van Lawrenceville, New Jersey, aan die koerant gesê.

Arthur (nou 72) was so dankbaar dat hy ’n brief aan Michael se geliefdes geskryf het om hulle vir hul onbaatsugtige besluit te bedank.

Sedertdien het Arthur, wat as Tom bekend is, met Michael se vrou, Bernice, kontak behou. Maar vanjaar het hy ’n ongewone versoek van Michael se dogter, Jeni, gekry.

Die laerskoolonderwyseres het vir hom ’n roerende brief geskryf waarin sy hom vra om haar die groot eer te bewys om op haar troudag saam met haar kansel toe te stap.

Jeni het in Oktober verlede jaar aan Paul Maenner (34), ’n ingenieur, verloof geraak. “Een van my eerste gedagtes in die daaropvolgende weke was: Wie sal saam met my kansel toe stap?,” het sy gesê.

“Ek het gedink: O, goeiste, dit sou ongelooflik gewees het om iets fisieks van my pa daar te hê.”

Dit was haar toekomstige man wat voorgestel het sy kontak Tom.

Hy het ingestem en die bruid het hom die dag voor haar troue die eerste keer ontmoet. Tydens die emosionele ontmoeting het Tom voorgestel sy hou aan sy polsgewrig vas waar sy pols die sterkste is.

En vir die eerste keer in 10 jaar het Jeni haar pa se hart hoor klop.

“Ek het gedink dit sou die beste manier wees vir haar om na aan haar pa te voel,” sê Tom. “Dis haar pa se hart wat klop.”

Die volgende dag het Tom saam met Jeni kansel toe gestap. Tom sê hy het diep geëer gevoel om dit te doen.

“Wat ’n groter eer kan ’n mens hê as [kansel toe] stap saam met die dogter van die man wat sy hart vir jou gegee het,” het hy gesê. “Ek kan my nie ’n groter eer voorstel nie.

“Ek het wonderlik daaroor gevoel om haar pa se hart na Pittsburgh te bring. Ek sou gestap het as ek moes.”