Nou, vyf jaar, sewe maande en tientalle onderhandelingsprosesse later, is daar weer ’n flikkering van hoop vir Stephen en sy familie.

Saterdag, 1 Julie, het Al Kaïda se tak in Mali ’n video vrygestel as bewys van lewe. En Stephen verskyn glo daarin saam met vyf ander in aanhouding. Elkeen van die gyselaars word deur ’n verteller bekendgestel.

Volgens ’n transkripsie van dié video sê Stephen dat dit ’n lang tyd is om weg te wees en vra hoe lank dit nog gaan duur voordat dit tot ’n einde gaan kom.

“Ek weet nie wat om te sê nie. Alles is reeds in die verlede gesê. Dit is alles gesê in die vorige video's wat ek gemaak het.”

Aan die einde van die video sê die verteller daar is nog nie enige werklike onderhandelinge gevoer oor hul vrylating nie. Tog word daar bygevoeg dat onderhandelinge “steeds aktief” is.

Johan Gustafsson van Swede en die Nederlander Sjaak Rijke, ’n treindrywer, is op 25 November 2011 saam met hom ontvoer.

’n Vierde slagoffer is na bewering doodgeskiet toe hy geweier het om in die ontvoerders se trok te klim.

Hulle het na bewering op hul hotelterras gesit toe ’n groep gewapendes op hulle toegeslaan het.

Sjaak is op 6 April 2015 deur Franse troepe gered. Sy vrou, Tilly, het die ontvoering in 2011 ontduik deur in die daktent op die egpaar se Toyota Landcruiser weg te kruip.

Johan is op 26 Junie 2017 vrygelaat.

Intussen word berig Stephen se pa, Malcolm, het reeds twee keer kontak gehad met Johan. Die terugvoer wat hy oor sy seun gekry het, is bemoedigend, veral in die lig daarvan dat hy sy vrou, Beverly, kwalik ’n maand gelede vanweë ’n kroniese siekte aan die dood afgestaan het.

Imtiaz Sooliman het Sondag aangedui dat hy wel glo die video waarin Stephen verskyn, eg is en dat dit bewys dat hy nog leef.

Malcolm het in 2015 reeds vir dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die liefdadigheidsorganisasie, The Gift of The Givers, genader om die familie behulpsaam te wees met die oog op Stephen se vrylating.

Hy het Sondag aangedui dat hy wel glo die video waarin Stephen verskyn, eg is en dat dit bewys dat hy nog leef. Wat sy vertroue in die video versterk, is die feit dat Johan tot nou toe in elke video saam met Stephen verskyn het. Johan se afwesigheid kan as ’n teken gesien word dat die video ná Johan se vrylating verfilm is.

Die vrystelling van die video is vermoedelik doelbewus beplan kort voor die nuwe Franse president, Emmanuel Marcon, se besoek aan Mali Sondag. Gesprekke met die leiers van dié lande gaan oor anti-terreurveldtogte.

Die vyf gevangenes wat saam met Stephen in die nuwe video verskyn

  • Arthur Kenneth Elliot (Australië) en sy vrou, Jocelyn, is in Januarie 2015 in Djibo, Burkino Faso, ontvoer. Hulle het reeds vanaf 1972 ’n mediese kliniek daar bedryf. Jocelyn is in Februarie 2016 vrygelaat.
  • Sophie Petronin (Frankryk) is in Desember 2016 in Gao in die noorde van Mali ontvoer. Sy het ’n organisasie vir ondervoede kinders bedryf.
  • Iulian Ghergut (Roemenië) is ’n mynwerker. Hy is glo op 4 April 2015 in Burkino Faso gevang.
  • Beatrice Stockly (Switserland) is ’n sendeling. Sy is in Januarie 2016 in Mali ontvoer.
  • Gloria Cecilia Narvaez Argoti (Columbië) is ’n non wat in Februarie 2017 deur gewapendes vanaf Karangasso in Mali ontvoer is.

Meer oor die ontvoerders

Destyds is aangevoer dat die ontvoerings ’n reaksie is op die herhaalde aggressie wat Frankryk jeens Moslem-gelowiges van die Sahel-lande openbaar. Dit is as ’n wettige reaksie teen daardie land se beleid beskryf.


Hoekom juis Mali? Dit is voorts aangevoer Amadoy Toumany Touré, wat van 2002 tot 2012 die president van Mali was, onder druk van Frankryk verkeer het om teen die land se “vegters” op te tree.

Die groep wat verantwoordelikheid vir die ontvoerings aanvaar het, is een van verskeie jihadi-groepe wat in 2012 beheer oor die noorde van Mali geneem het. In Januarie 2013 het ’n militêre operasie onder Franse aanvoering hul egter verdryf.

in Maart vanjaar is daar ’n video vrygestel waarin aangekondig is dat ’n nuwe groep, Nusrat al-Islam wal Muslimeen, gevorm is nadat drie ekstremistiese groepe saamgesmelt het: al-Mourabitoun wat aan Al Kaïda gekoppel word, Ansar Dine en Al Kaïda in die Islamitiese Magreb (AQIM).

Die nuwe groep het ook verantwoordelikheid aanvaar vir Mei se aanval op ’n gewilde toeristeoord net buite Mali se hoofstad wat gewild is onder buitelandse toeriste. Minstens vyf mense het in die aanval gesterf.

Bronne: france24.com, timeslive.co.za, giftofthegivers.org, enca.com, telegraph.co.uk, latimes.com, dailymaverick.co.za